MIGA 1 - Nuwe Lewende Vertaling

1Gedurende die bewind van Jotam, Agas en Hiskia het die Here boodskappe vir Miga van Moreset gegee. Hy het visioene gesien wat bestem was vir Samaria en Jerusalem.

Ontsteltenis oor Samaria en Jerusalem

2Let op, nasies van die wêreld,

julle wat die aarde bewoon!

Die oppermagtige Here

kla julle aan.

Die Here sal getuig

uit sy heilige tempel.

3Kyk, die Here is op pad!

Hy verlaat sy troon

en kom af aarde toe.

Hy kom loop hier

op die hoë plekke.

4Die berge smelt onder Hom.

Soos was wat smelt,

vloei hulle die valleie binne;

soos water

wat afvloei teen die heuwels.

5Hoekom gebeur dit?

Omdat Israel en Juda

sonde doen en opstandig is.

Wie moet die blaam dra

vir Israel se opstand?

Is dit nie Samaria nie?

Waar in Juda is die offerplekke

vir die afgode?

Is dit nie Jerusalem nie?

6“Ek gaan Samaria

tot ’n puinhoop maak,

’n plek om wingerde te plant.

Die klippe

waarmee die stad gebou is,

gaan Ek in die vallei laat afrol.

Die fondamente

gaan Ek blootlê.

7Al die beelde in die stad

sal stukkend geslaan word.

Al die skatte

uit prostitusie verdien,

sal met vuur verbrand word.

Al haar afgodsbeelde

sal Ek vernietig.

Sy het uit prostitusie

haar verdienste bekom.

Vir die doel van prostitusie

sal hulle weer gebruik word.”

8Daarom sal ek huil en treur,

sal ek kaalvoet rondloop,

sonder klere.

Ek sal tjank soos ’n jakkals

en brom soos ’n volstruis.

9My volk se wond

is ongeneeslik.

Dit tref die mense van Juda.

Dit reik selfs

tot by die poorte van Jerusalem.

10Moenie dit in Gat vertel

en daaroor huil nie.

Mense van Bet-Leafra,

rol liewer in die stof

as teken van julle ontsteltenis.

11Inwoners van Safir,

gaan in ballingskap,

naak en vernederd.

Inwoners van Saänan,

waag dit nie buite nie.

Die mense van Bet-Esel treur,

want hulle stad se fondasie

is weggeruk.

12Die inwoners van Marot

wag in spanning

dat verligting sal kom,

want die Here se oordeel

het al gekom

tot by die poorte

van Jerusalem.

13Inwoners van Lakis,

span in die strydwaens!

In Lakis het

die sonde van Juda begin.

Die ontrouheid van Israel

het by julle begin.

14Stuur ’n afskeidsgeskenk

na Moreset-Gat.

Die dorp Aksib

het die konings van Israel

mislei.

15Inwoners van Maresa,

Ek stuur ’n oorwinnaar

teen julle.

Die eer van Israel

sal tot by Adullam kom.

16Skeer van hartseer

’n kaal kol op julle koppe

ter wille van die kinders

wat julle liefhet.

Skeer julle koppe kaal

soos ’n aasvoël.

Want hulle sal

van julle weggevat word

en in ballingskap

geneem word.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help