1 PETRUS 3 - Nuwe Lewende Vertaling

Riglyne vir huweliksverhoudings

1En julle, vroue, julle moet julle eie mans se gesag oor julle aanvaar, selfs as hulle nie die Goeie Nuus glo nie. Sonder dat julle ’n woord hoef te sê, sal julle leefstyl hulle vir Christus wen.

2Hulle sal immers sien hoe eerbiedig en onberispelik julle lewe.

3Moenie dink dis bloot uiterlike dinge soos haarkapsels, juwele en pragtige klere wat julle mooi maak nie.

4Julle skoonheid moet veral innerlik wees: blywende beskeidenheid en ’n gemoed wat kalm en rustig is. Dit is vir God kosbaar.

5Dis presies hoe die gelowige vroue in die ou dae hulle mooi gemaak het. Hulle het op God gehoop en hulle mans se gesag oor hulle aanvaar.

6Sara, byvoorbeeld, was aan haar man, Abraham, gehoorsaam deur hom “Meneer” te noem. Julle het haar dogters geword omdat julle doen wat goed is en julle nie laat afskrik deur enige intimidasie nie.

7En julle, mans, behandel julle vroue met respek.

Leef saam met jou vrou in die besef dat, al is sy fisiek swakker as jy, sy saam met jou deel in die lewe wat God as geskenk gee.

As jy haar só behandel, sal jou gebede nie geblokkeer word nie.

Riglyne vir die verhouding met die naaste in die algemeen

8’n Laaste woord oor julle verhoudings: Wees almal eensgesind, simpatiek, lief vir mekaar, goedhartig en nederig.

9Moenie kwaad met kwaad vergeld nie. Moenie iemand wat julle beledig, terugbeledig nie. Inteendeel, jou antwoord moet ’n seënwens wees. Dít is waartoe God julle geroep het en waarvoor Hy julle sal seën.

10Want die Skrif sê:

“As jy die lewe wil liefhê

en goeie dae wil beleef,

moet jy jou tong weghou

van kwaadpraat

en jou lippe van leuens.

11Bly weg van die kwaad af,

ja, doen wat goed is.

Soek vrede,

ja, jaag dit na!

12Die Here sorg vir dié

wat reg doen,

en Hy luister na hulle gebede.

Maar die Here is teen dié

wat kwaad doen.”Nét Christus moet seggenskap in julle lewe hê

13Verder, wie sal julle sleg behandel as julle uit julle pad gaan om goed te doen?

14Maar as dit inderdaad gebeur dat julle swaarkry omdat julle doen wat reg is, sal God sy seën op julle laat rus. Moet dus nie dat mense julle bangmaak of afskrik nie.

15Inteendeel, erken in julle harte Christus as die een wat seggenskap het. As julle dit doen, en iemand vra julle uit oor die hoop wat in julle leef, wees altyd reg om te reageer.

16Doen dit egter taktvol en eerbiedig. Sorg dat julle gewete skoon bly. Wanneer mense dan sleg van julle praat, sal hulle skaam kry wanneer hulle agterkom hoe voorbeeldig julle leefstyl is omdat julle aan Christus behoort.

17Hou in gedagte: As God beskik dat julle moet ly omdat julle goeddoen, is dit beter as om te ly omdat julle kwaad doen.

Wees bemoedig: Christus hét oorwin en regeer nou oor alles

18Ons moenie dink dis net ons wat onverdiend ly nie.

Ook Christus het só gely

toe Hy eens en vir altyd

vir ons sondes gesterf het.

Hy het nooit enige sonde gedoen nie;

tog het Hy vir sondaars gesterf

om julle by God te laat tuiskom.

Wat sy liggaam betref,

het Hy gesterf,

maar wat sy gees betref,

is Hy lewend gemaak.

19Só het Hy na die geeste in die gevangenis gegaan en sy oorwinning daar aangekondig.

20Hierdie geeste is hulle wat aan God ongehoorsaam gebly het toe Hy baie geduldig met hulle was. Dit het gebeur in die tyd toe Noag die ark gebou het. Net agt mense is uit die verskriklike vloed gered.

21Die redding in die ark is ’n voorteken van die doop, waardeur julle ook nou gered word. Die doop red julle deur die opstanding van Jesus Christus. Die doop is nie ’n afwassing van die vuilheid van die liggaam nie, maar ’n pleit voor God dat jou gewete skoon bly.

22Christus hét die hemel binnegegaan. Hy sit nou aan die regterhand van God, met die engele, magte en kragte onder sy beheer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help