SAGARIA 9 - Nuwe Lewende Vertaling

Oordeel oor die vyande van Israel

1Dit is die boodskap van die Here teen die land Gadrak en die stad Damaskus, want die oë van alle mense, ook die volk van Israel, is op die Here.

2Oordeel is seker vir Hamat,

naby Damaskus,

en vir die stede van Tirus

en Sidon

ook al is hulle ook hoe slim.

3Tirus het ’n sterk vesting gebou,

soveel goud en silwer

bymekaargemaak

dat dit so algemeen sal wees

soos stof in strate!

4Maar nou sal die Here

Tirus se besittings wegstroop

en sy vesting in die see gooi.

Tirus sal aan die brand gesteek

en tot op die grond

afgebrand word.

5Askelon sal dit sien en skrik.

Gasa sal bewe van angs

en so ook Ekron,

want hulle hoop

sal daarmee heen wees.

Gasa sal sonder koning wees

en Askelon sal verlate wees.

6Vreemdelinge

sal die stad Asdod inneem,

en die trots van die Filistyne

sal vernietig word,

sê die Here.

7Hulle sal nie langer

vleis eet met bloed daarin nie,

hulle sal ook nie

ander verbode kos eet nie.

Al die Filistyne wat oorleef,

sal ons God aanbid

en aanvaar word

as ’n nuwe stam in Juda.

Ekron sal word soos

die Jebusiete.

8Ek sal my tempel bewaak

en beskerm

teen invallende leërs.

Ek sal hulle bewegings dophou

sodat geen buitelandse

onderdrukker

ooit weer my volk se land

sal binneval nie.

Sion se koning kom

9Wees baie bly, dogter van Sion!

Juig hardop,

dogter van Jerusalem!

Kyk, jou koning kom na jou toe.

Hy is regverdig

en ’n oorwinnaar,

maar tog is hy nederig.

Hy ry op ’n donkie,

die vul van ’n donkie.

10Die strydwaens van Efraim

sal Ek vernietig,

en ook die oorlogsperde

in Jerusalem.

Al die wapens vir oorlog

sal Ek vernietig.

Jou koning sal vir die nasies

vrede bring.

Sy ryk sal strek van see tot see,

van die Eufraatrivier af

tot aan die uithoeke van die aarde.

11Wat jou betref,

my verbond met jou

is met bloed beseël.

Ek sal jou gevangenes red

uit ’n waterlose put.

12Keer terug na die vesting toe,

gevangenes vol hoop!

Ek belowe dat Ek julle

dubbel sal vergoed

vir al julle swaarkry.

13Juda is my boog

en Israel is my pyl!

Sion is my swaard

en Ek is soos ’n soldaat,

Ek sal dit

teen Griekeland gebruik.

14Bokant sy volk

sal die Here verskyn,

sy pyle sal vlieg soos weerlig.

Die oppermagtige Here

sal die trompet blaas.

Hy sal teen sy vyande uittrek

soos ’n stormwind uit die woestyn.

15Die Here, die Almagtige,

sal sy volk beskerm

en hulle sal hulle vyande

met slingervelle oorwin.

Hulle sal oorlogskrete skree

asof hulle dronk is van wyn

terwyl die bloed

van hulle vyande vloei.

Hulle sal vol wees van bloed

soos ’n bak by offers,

soos die hoeke van die altaar.

16Wanneer daardie dag kom,

sal die Here hulle God

sy volk red,

net soos ’n skaapwagter

sy skape red.

Hulle sal in die land glinster

soos juwele in ’n kroon.

17Hoe wonderlik en mooi

sal hulle nie wees nie!

Jong mans en meisies sal floreer

op die oorvloed van koring

en jong wyn.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help