2 KRONIEKE 22 - Nuwe Lewende Vertaling

Ahasia regeer in Juda

1Die inwoners van Jerusalem het toe Ahasia, die jongste seun van Joram, tot koning gekroon. Die plunderende bende Arabiere het al die ouer seuns doodgemaak. Ahasia, die jongste seun van Joram, het as koning oor Juda regeer.

2Ahasia was 22 jaar oud toe hy koning geword het en het een jaar in Jerusalem regeer. Sy ma was Atalia, ’n kleindogter van Omri.

3Ahasia het ook die goddelose voorbeeld van die koningshuis van Agab gevolg, want sy ma het hom aangemoedig om verkeerde dinge te doen.

4Hy het gedoen wat verkeerd was vir die Here, net soos die koningshuis van Agab gedoen het. Na die dood van sy pa het Agab se familie sy raadgewers geword. Hulle het hom tot ondergang gelei.

5Onder invloed van hulle raad het koning Ahasia ’n verdrag met koning Joram, seun van Agab van Israel, gesluit. Hulle het uitgetrek teen koning Gasael van Aram in Ramot-Gilead, maar die Arameërs het Joram in die geveg gewond.

6Joram het na Jisreël teruggegaan om van die wonde te herstel wat hy opgedoen het in die geveg teen Gasael, die koning van Aram, te Rama. Koning Ahasia van Juda het ook na Jisreël gegaan om hom te besoek.

7Dit was ’n fout, want die Here het besluit om Ahasia te straf. Ahasia en Joram het Jehu seun van Nimsi tegemoetgegaan. Die Here het bepaal dat Jehu die koningshuis van Agab tot niet moes maak.

8Terwyl Jehu besig was om oordeel oor Agab se koningshuis te voltrek, het hy afgekom op leiers van Juda en die seuns van Ahasia se bloedverwante wat Ahasia bygestaan het. Hy het hulle doodgemaak.

9Jehu het Ahasia laat soek en hom gekry waar hy in Samaria weggekruip het. Hulle het hom na Jehu toe gebring en hy het hom ook doodgemaak.

Ahasia het ’n behoorlike begrafnis gekry, want daar is gesê: “Hy was die kleinkind van Josafat, ’n man wat die Here met sy hele hart gedien het.” Daar was geen oorlewende lid van Ahasia se familie wat in staat was om die koninkryk te regeer nie.

Atalia regeer in Juda

10Toe Atalia, die ma van koning Ahasia van Juda, hoor dat haar seun dood is, het sy die res van Juda se koningshuis uitgeroei.

11Maar Jehoseba die dogter van koning Joram, het Ahasia se klein seuntjie Joas stilletjies weggevat tussen die ander seuns wat doodgemaak sou word. Sy het Joas en sy oppasser in ’n slaapkamer weggesteek. Jehoseba was die dogter van koning Joram en was getroud met Jojada die priester, en was die suster van Ahasia. Sy het die kind weggesteek sodat Atalia hom nie kon doodmaak nie.

12Joas is ses jaar lank in die tempel van God weggesteek terwyl Atalia oor die land regeer het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help