SPREUKE 22 - Nuwe Lewende Vertaling

1Soek eerder

na ’n goeie naam

as na groot rykdom.

Hoë aansien

is beter as silwer of goud.

2Vir mense, ryk en arm,

is dit dieselfde:

die Here het hulle almal gemaak.

3Iemand wat verstandig is,

sien wanneer die onheil kom

en kruip weg.

Die onervare mens

loop oopoë daarin vas

en boet daarvoor.

4Iemand wat nederig is

en respek het vir die Here,

kry rykdom, eer en lewe.

5Op ’n oneerlike mens se pad

is daar dorings en lokvalle.

Iemand wat omgee vir homself,

bly ver daarvan weg.

6Leer ’n jongmens

om die regte pad te kies,

en wanneer hy eendag oud is,

sal hy nie daarvan afwyk nie.

7Soos rykes oor armes heers,

so is die man wat geld leen

die slaaf van die man by wie hy leen.

8’n Geweldenaar wat onreg saai,

sal teëspoed oes.

Ook sy verdrukking van ander

sal tot ’n einde kom.

9’n Vrygewige man wat van sy kos

vir armes gee,

sal geseën word.

10Jaag die spotter weg

en saam met hom sal rusies padgee;

die gestry en beledigings

sal tot ’n einde kom.

11Wie graag opreg wil wees

en mooi praat met ander,

het selfs die koning as vriend.

12Die Here hou kennis in stand.

Hy keer die woorde

van die onbetroubare mens om.

13“Daar is ’n leeu daarbuite!”

sê die luiaard.

“Ek sal gevang word

as ek dit buite waag!”

14’n Vreemde vrou se woorde

is ’n bodemlose put;

as die Here vir jou kwaad is,

sal jy daarin val.

15Dwaasheid is eie

aan ’n seun;

’n pak slae haal dit uit hom uit.

16Wie arm mense verontreg

om homself te verryk,

of vir die rykes geskenke gee,

sal self in armoede verval.

Dertig Reëls

17Gee aandag en luister baie goed

na wat die wyse mense sê.

Probeer verstaan wat ek jou wil leer.

18My onderrig sal goed wees

as jy dit jou eie maak

en dit kan gebruik.

19Vandag onderrig ek spesifiek vir jou

sodat jy op die Here

kan vertrou.

20Ek skryf 30 voorskrifte

vir jou neer.

Hulle is vol raad en kennis.

21Deur hulle sal jy in staat wees

om die waarheid te herken

en betroubaar verslag te doen

aan die mense wat jou stuur.

22Moenie ’n arm mens uitbuit

net omdat hy arm is nie.

Moenie die hulpelose in hofsake

uitbuit nie.

23Die Here sal hulle saak verdedig.

Hy sal mense wat hulle beroof,

weer van húlle lewe beroof.

24Moenie vriende maak

met ’n humeurige mens nie.

Bly ver weg van een

wat ongeduldig is.

25Jy moenie dalk sy maniere

by hom aanleer nie.

Dit sal die oorsaak word

van jou eie ondergang.

26Moenie borg staan

vir iemand nie.

Moenie instaan

vir ander se skuld nie.

27As jy dit nie kan terugbetaal nie,

sal hulle selfs jou bed

onder jou wegvat.

28Moenie grensdrade verskuif

wat jou voorouers

opgerig het nie.

29Sien jy iemand

wat bedrewe is in sy beroep?

Hy werk vir konings

en nie vir gewone mense nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help