JESAJA 29 - Nuwe Lewende Vertaling

’n Boodskap vir Jerusalem

1“Verwoesting wag vir Ariël,

Ariël, die Dawidstad.

Jaar na jaar

hou julle die feeste.

2Maar Ek bring ramp na ramp

oor jou.

Hulle sal baie oor jou huil.

Want Jerusalem

sal word soos sy naam beduie:

’n altaar vol bloed.

3Ek sal jou vyand word.

Ek sal Jerusalem omsingel

en sy mure aanval.

Ek sal beleëringswalle bou

teen die mure

en dit vernietig.

4Jou stem sal wees

soos die gefluister van ’n spook

wat uit die aarde kom,

uit die stof waar jy begrawe lê.

5“Maar skielik

sal die genadelose vyande

weggedryf word

soos kaf voor die wind.

6In ’n oomblik sal die Here

die Almagtige

teen hulle kom

met donderweer en aardbewings

en groot geraas,

met dwarrelwinde en storms

en vuur wat alles verteer.

7Al die nasies wat geveg het

teen Jerusalem,

sal soos ’n droom verdwyn!

Die vyande wat haar mure

aangeval het,

sal verdwyn soos ’n visioen

van die nag.

8Honger mense droom van kos,

maar is steeds honger

wanneer hulle wakker skrik.

Mense wat dors is,

droom van water,

maar bly dors as hulle wakker word.

Op dieselfde manier

sal jou vyande

droom dat hulle Jerusalem

oorwin.

Maar dit sal nie gebeur nie.”

9Is julle verbaas en verstom?

Glo julle my nie?

Gaan dan maar aan

en sien niks.

Julle is dronk,

maar nie van wyn nie.

Julle struikel,

maar nie van bier nie!

10Die Here het ’n diep slaap

oor julle laat kom.

Hy het die oë toegesluit

van julle profete en sieners.

11Die openbaring

van toekomstige gebeure

is ’n verseëlde boek vir hulle.

As jy dit gee vir mense

wat kan lees,

sal hulle sê:

“Ons kan dit nie lees nie,

want die boek is verseël.”

12En as jy dit vir mense gee

wat nie kan lees nie,

sal hulle antwoord:

“Jammer, maar ons kan nie

lees nie.”

13So het die Here gesê:

“Hierdie mense sê

hulle behoort aan My.

Hulle eer My met hulle monde,

maar hulle harte

is ver van My af.

En hulle aanbidding bestaan

uit niks meer nie

as menslike opdragte en tradisies.

14Daarom gaan Ek wonders doen

onder hierdie mense.

Ek wys hulle

hoe dwaas

menslike wysheid is

en hoe die briljantste mense

niks begryp nie.”

15Verwoesting wag verseker

vir hulle wat probeer

om hulle planne vir die Here

weg te steek.

Hulle probeer om hulle dade

in die donker weg te steek

en sê:

“Die Here kan nie sien

wat ons doen nie!”

Julle sê vir julleself:

“Hy weet niks

wat aangaan nie!”

16Hoe onnosel is julle!

Hy is die Pottebakker,

en soveel groter as julle!

Julle is maar net die potte

wat Hy gemaak het!

Kan die kleipot

van die pottebakker sê:

“Hy het ons nie gemaak nie”?

Die kleipot kan tog nie

vir die pottebakker sê:

“Die pottebakker

wat my gemaak het,

weet niks!”

17Baie gou, binne ’n kort tydjie,

sal die wildernis van die Libanon

verander in ’n vrugbare veld.

En die vrugbare velde

sal ’n lowerryke bos word.

18Daardie dag sal dowe mense

hoor

hoe daar uit ’n boek gelees word,

en blinde mense

sal deur die somberheid

en donkerte kan sien.

19Nederige mense sal vol wees

van blydskap

wat van die Here af kom.

Arm mense sal bly wees

oor die Heilige van Israel.

20Die mense

wat ander geïntimideer

en geteister het,

sal weg wees.

Almal wat komplotte gesmee het,

sal doodgemaak wees.

21Hulle wat onskuldiges

skuldig bevind het

met hulle valse getuienis,

sal verdwyn.

Die mense

wat met ’n bedriegspul

die reg omgedraai het

en leuens vertel het

om onskuldiges af te kraak,

sal nie meer bestaan nie.

22Dis hoekom die Here,

wat vir Abraham gered het,

vir die mense van Israel sê:

“My volk sal nie bleek word

van vrees nie.

Hulle sal nie skaam wees nie.”

23Wanneer hulle rondom hulle

die baie kinders

en seëninge sien

wat Ek hulle gegee het,

sal hulle die heiligheid erken

van die Heilige van Israel.

Hulle sal in ontsag opstaan

voor die God van Israel.

24Dan sal dié wat afgedwaal het,

die waarheid glo.

En hulle wat aanhoudend kla,

sal hulle laat leer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help