SPREUKE 15 - Nuwe Lewende Vertaling

1’n Vriendelike antwoord

kalmeer die gemoedere,

’n dwars antwoord

laat woede opspring.

2Die woorde van wyse mense

maak kennis aanloklik.

Dwase mense borrel oor

van dwase dinge.

3Die Here sien oral wat gebeur.

Sowel slegte as goeie mense

hou Hy dop.

4Vriendelike woorde bring lewe,

bedrieglike woorde

vernietig mense.

5’n Dwaas praat smalend

oor wat sy pa hom leer,

iemand wat hom laat reghelp,

is verstandig.

6In die huis van regverdiges

is daar skatte.

Wat die goddelose inbring,

bring vir hom moeilikheid.

7Wyse mense versprei kennis

met wat hulle sê.

Dwase mense

kan dit nie doen nie.

8Die Here verafsku die offers

van goddelose mense.

Hy is bly oor die gebede

van opregtes.

9Die Here verafsku die manier

waarop goddelose mense leef.

Hy het die mense lief

wat volgens sy wil lewe.

10Wie die regte pad verlaat,

sal swaar gestraf word.

Hy wat berisping haat,

sal sterf.

11Die Here weet

wat gebeur in die doderyk

en in die onderaardse dieptes.

Hoeveel te meer weet Hy

wat aangaan

in mense se harte.

12’n Spotter hou nie van die persoon

wat hom teregwys nie.

Hy vra nie raad by ’n wyse nie.

13Blydskap

laat ’n mens se gesig straal.

Hartseer

maak ’n mens terneergedruk.

14’n Verstandige mens

soek ernstig na kennis.

’n Dwase mens

teer op dwaasheid.

15Vir die bedrukte mens

bring elke dag net probleme.

Vir die blymoedige mens

is die hele lewe ’n fees.

16Dit is baie beter om min te hê

en ook respek vir die Here,

as om groot rykdom te besit

met die onrus daarmee saam.

17Liewer net ’n skeppie groente

saam met iemand

vir wie jy lief is,

as ’n lekker stuk beesvleis

en haat daarmee saam.

18’n Humeurige mens

sit twis aan die gang.

’n Verdraagsame mens

sit ’n stryery stop.

19’n Luiaard se pad

is met dorings besaai.

’n Opregte mens se pad is gelyk.

20’n Verstandige seun

maak sy pa bly.

’n Dwase seun

het geen respek vir sy ma nie.

21Iemand sonder verstand

put vreugde uit sy dwaasheid.

Iemand met insig

bly op die regte pad.

22Sonder beplanning

loop planne skeef.

Sukses is afhanklik

van baie raadgewers.

23Daar is vreugde daarin

om die regte antwoord te hê.

Wat is beter as die regte woord

op die regte tyd?

24Die lewenspad

van ’n verstandige mens

loop boontoe.

Dit stuur weg van die doderyk

daar onder.

25Die Here vernietig

die hoogmoedige se huis.

Hy beskerm die grondgebied

van die weduwee.

26Die Here verafsku

slegte planne.

Hy hou van skoon gedagtes.

27’n Gierigaard

bring ongeluk oor sy huis.

Wie omkoopgeskenke weier,

sal lewe.

28’n Regverdige mens

dink eers voor hy antwoord.

By goddelose mense se monde

borrel daar slegte dinge uit.

29Die Here luister nie

na goddelose mense nie.

Hy verhoor die gebed

van die regverdige mens.

30Oë wat blink, bring vreugde.

Goeie nuus bring gesondheid.

31Wie na kritiek luister,

sal lewe.

Jy sal tuis wees

tussen mense met wysheid.

32Wie goedbedoelde raad

ignoreer,

doen skade aan homself.

Iemand wat hom laat reghelp,

ontwikkel sy insig.

33Om respek vir die Here te hê,

leer ’n mens wysheid.

Nederigheid kom eerste,

daarna volg eer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help