HOSEA 13 - Nuwe Lewende Vertaling

Die toorn van die Here

teen Israel

1Voorheen het die mense van vrees gebewe wanneer die stam Efraim gepraat het, want die ander stamme het na hom opgesien. Maar die mense van Efraim het gesondig deur Baäl te dien. Dit het sy lot verseël.

2Nou gaan hulle aan om silwerafgodsbeeldjies te maak – beeldjies met bedrewe mensehande gemaak. Hulle roep uit: “Offer aan hulle! Soen die kalwerbeelde!”

3Daarom sal hulle verdwyn soos ’n môrewolkie, soos dou wat vroegoggend verdwyn, soos kaf wat die wind wegwaai van die dorsvloer af, soos rook uit ’n skoorsteen.

4“Ek is die Here jou God wat jou uit die slawerny van Egipte gered het. Jy het geen ander God as Ek nie, want daar is geen ander redder nie.

5Dis Ek wat jou in die woestyn, in daardie dor land, versorg het.

6By goeie weiding aangekom, het hulle hulle dik geëet. Toe hulle genoeg geëet het, het hulle hoogmoedig geword en van My vergeet.

7Nou word Ek vir hulle soos ’n leeu, soos ’n luiperd wat langs die pad ’n prooi voorlê.

8Ek sal hulle aanval soos ’n beer wat van haar kleintjies beroof is. Ek sal hulle oopskeur en verslind soos ’n honger leeu. Wilde diere sal hulle uitmekaarskeur.

9“Ek het jou verwoes, o Israel. Wie sal jou nou kan help?

10Waar is jou koning dat hy jou kan red in al jou stede? Waar is jou leiers van wie jy gesê het: ‘Gee vir my ’n koning en leiers’?

11In my toorn het Ek vir jou ’n koning gegee; en in my woede het Ek hom weggeneem.

12“Die sondes van Efraim is opgeteken, sy oortredings is neergeskryf.

13Toe die tyd vir geboorte aanbreek, was hy dwaas, ’n baba wat nie gebore wou word nie.

14Moet Ek hulle loskoop uit die doderyk? Moet Ek hulle red uit die dood? O dood, bring maar jou verskrikking! O doderyk, bring maar jou plae! Ek sal beslis nie medelye hê nie!

15Efraim floreer tussen die riete, maar die oostewind, ’n rukwind van die Here, sal uit die woestyn kom. Dit sal hulle waterbronne verdroog en hulle lopende fonteine laat opdroog. Al hulle skatte en waardevolle besittings sal geplunder word.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help