MIGA 5 - Nuwe Lewende Vertaling

1Betlehem-Efrata,

jy is ’n klein dorpie in Juda.

Tog sal daar uit jou

vir My ’n regeerder kom

wat oor Israel sal heers.

Sy oorsprong is

uit die verre verlede.

2Hy sal die mense van Israel

uitlewer

totdat die vrou wat verwag,

geboorte gee.

Eers dan sal sy volksgenote

terugkeer

na die land van Israel.

3Hy sal oor sy kudde regeer

met die krag van die Here

en die magtige Naam

van die Here sy God.

Sy volk sal dan veilig kan woon,

want hy sal deur

die hele wêreld geëer word.

4Hy sal die bron van vrede wees.

Wanneer Assirië ons land

binneval

en deur ons verdediging bars,

sal ons meer as sewe herders,

selfs agt leiers

teen hulle laat veg.

5Hulle sal Assirië

met die swaard regeer,

die land Nimrod by sy ingange.

Hy sal ons red van die Assiriërs

as hulle ons grense oorsteek

en ons land binneval.

’n Gesuiwerde oorblyfsel

6Die mense van Israel

wat oorbly,

sal tussen die talle volke wees

soos dou

wat die Here stuur.

Hulle sal wees soos reën

wat op die gras val.

Geen mens

het beheer daaroor nie.

7Dié van Israel wat oorbly,

sal soos ’n sterk leeu

tussen die talle volke wees.

Die ander volke sal wees

soos hulpelose skape,

niemand sal hulle kom red nie.

8Israel sal teen hulle teenstanders

in opstand kom,

hulle sal al hulle vyande uitroei.

9Die Here sê:

“In dié tyd sal Ek

ook al jou perde

en jou strydwaens vernietig.

10Ek sal jou mure platslaan

en al jou vestings afbreek.

11Ek sal jou heksery stopsit

en jou waarsêers uitroei.

12Ek sal al jou afgode

en jou klippilare vernietig.

Jy sal nooit weer

jou eie handewerk

aanbid nie.

13Jou gewyde pale

vir die vrugbaarheidsgodin

sal Ek vernietig

en jou stede verwoes.

14Ek sal in woede wraak neem

op al die nasies

wat weier

om My te gehoorsaam.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help