Openbaring 7 - Bybel vir almal

Johannes sien 144 000 mense

1Nadat hierdie dinge gebeur het, het ek vier engele gesien. Hulle het by die vier hoeke van die aarde gestaan. Die vier engele het die vier winde wat op die aarde waai, vasgehou sodat daar nêrens 'n wind gewaai het nie, nie op die aarde nie, nie op die see nie, en nie teen die bome nie.

2Toe sien ek 'n ander engel wat van die ooste kom. Hy het die seël van God gehad, God wat altyd lewe. God het vir die vier engele gesê hulle mag die aarde en die see verwoes, en die engel het hard geskree vir daardie vier engele

3en gesê: “Julle moenie nou die aarde en die see en die bome verwoes nie! Julle moet wag totdat ons die mense gemerk het wat vir God dien, ons sal hulle op hulle voorkoppe merk met die seël.”

4Ek het gehoor hoeveel mense merke gekry het op hulle voorkoppe. Dit was 144 000 mense, en hulle het gekom van elke stam van die Israeliete:

5-8Van elke stam het 12 000 mense merke gekry. Die stamme was: Juda, Ruben, Gad, Aser, Naftali, Manasse, Simeon, Levi, Issaskar, Sebulon, Josef en Benjamin.

Johannes sien 'n groot klomp mense bymekaar

9Ná hierdie dinge het ek gekyk en ek het 'n groot klomp mense gesien wat bymekaar is. Daar was so baie mense dat niemand hulle kon tel nie. Hulle het gekom uit al die lande, stamme, volke en tale. Hulle het gestaan voor God se troon en voor die Lam. Hulle het wit klere gedra en hulle het takke van palmbome in hulle hande gehad.

10Hulle het hard geskree en gesê:

“Ons God sit op die troon,

Hy en die Lam het oorwin!”

11En al die engele het rondom God se troon en rondom die ouderlinge en rondom die vier diere gestaan. Die engele het gaan lê met hulle gesigte teen die grond en hulle het vir God aanbid.

12Hulle het gesê:

“Amen! Ons prys ons God!

Ons prys Hom, ons Koning!

Hy het al die wysheid!

Ons sê vir Hom dankie!

Ons eer Hom!

Hy is baie sterk,

Hy kan alles doen!

Ons wil Hom altyd prys! Amen!”

13Toe vra een van die ouderlinge vir my: “Wie is hierdie mense wat wit klere dra? Van waar het hulle gekom?”

14Ek het vir hom gesê: “Meneer, jy weet wie hulle is.”

Hy het vir my gesê: “Daardie mense het baie swaar gekry omdat hulle aan die Lam behoort. Hulle het hulle klere gewas in die bloed van die Lam. Toe het hulle klere wit geword.

15“Daarom is hulle nou voor God

se troon.

Hulle dien nou vir God elke dag

en elke nag in sy tempel.

God, wat op die troon sit,

sal hulle beskerm.

16Hulle sal nooit honger of dors

word nie.

Die son sal hulle nie brand nie.

Niks wat warm is,

sal hulle brand nie.

17Want die Lam wat by God

se troon is,

sal hulle Herder wees.

Hy sal hulle na fonteine neem

en vir hulle water gee,

water wat hulle altyd

sal laat lewe.

En God sal al hulle trane afvee.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help