Jesaja 26 - Bybel vir almal

Hierdie volk weet dat die Here hulle sal help

1Eendag sal die mense van Juda hierdie lied sing in hulle land. Hulle sal sê:

“Ons het 'n sterk stad.

Die Here het die sterk mure gebou

om ons te beskerm.

2Julle moet die poorte oopmaak

sodat die volk kan ingaan,

die volk wat doen

wat die Here wil hê,

die volk wat gehoorsaam is aan Hom.

3Hierdie volk weet

dat die Here hulle sal help.

U sal hulle laat rus en vrede vir hulle gee,

want hulle glo in U.

4Julle moet altyd in die Here glo,

want as julle by Hom is,

dan is julle by 'n rots

wat altyd vas staan.

5Die Here het ons vyande

laat afval van hulle hoë mure.

Hy het hulle stad en die hoë mure

afgebreek tot op die grond.

6Die mense wat hulleself nie kon help nie

en wat arm was,

trap nou op daardie stad.”

U sal oor ons regeer en vir ons vrede gee

7Die mense wat reg doen,

se pad is gelyk.

Here, U maak dit vir hulle

maklik om te lewe.

8Ons glo altyd in U,

ook wanneer U die Regter is.

Ons wil altyd u Naam noem

en U eer.

9Ek verlang na U met my hele hart,

ook in die nag,

en ek soek na U.

Wanneer U die Regter is

en U straf die mense,

dan leer U vir hulle om reg te lewe

op die aarde.

10Maar wanneer U goed is

vir die mense wat verkeerd doen,

dan leer hulle nie om reg te lewe nie.

Hulle hou aan om verkeerd te doen

en hulle sien nie

dat die Here die Koning is nie.

11U het u hand opgelig

om hulle te straf,

maar hulle sien dit nie.

Here, wys vir hulle

dat U lief is vir u volk.

Laat u vyande in die vuur brand

wanneer U kwaad word,

sodat hulle sal weet

hulle kan self niks doen nie.

12Here, U sal oor ons regeer

en vir ons vrede gee,

want dit is U wat alles gedoen het

wat ons gedoen het.

13Here, ons God,

ander konings het oor ons regeer,

maar ons wil net ú Naam onthou.

14Die ander konings is dood

en hulle sal nie weer lewe nie.

U het hulle gestraf

en U het hulle laat sterf,

en niemand dink nou nog

aan hulle nie.

15Here, U het u volk baie laat word,

U het hulle baie laat word,

U het hulle land groter gemaak,

U het gewys U is die Koning.

Die mense wat aan U behoort, sal lewe

16Here, U het u volk gestraf,

en toe hulle swaarkry,

het hulle na U toe gekom,

hulle het gebid en gevra

U moet hulle help.

17Ons was soos 'n vrou

wat 'n baba kry,

dit was seer,

ons het baie pyn gehad.

Ons het gebid en gevra

U moet ons kom help.

18Ons liggaam het krom gebuig

soos 'n vrou wat 'n baba kry,

maar daar het nie 'n baba

uit ons gekom nie,

daar het niks uitgekom nie.

Daar het nie 'n redder

uit ons gekom nie,

en ook nie mense

wat op die aarde kan woon nie.

19Maar die mense

wat aan U behoort en wat gesterf het,

sal weer lewe.

Ja, julle wat nou dood is,

wat in die stof van die aarde lê,

julle wat daar in die doderyk is,

julle moet wakker word en juig,

want soos die dou uit die lug

die plante laat groei,

so sal die aarde

die mense wat gesterf het,

weer laat lewe.

Die Here sal nou die mense op die aarde straf

20My volk,

julle moet in julle kamers ingaan

en julle moet die deure agter julle toesluit.

Julle moet wegkruip

totdat die Here die ander mense

klaar gestraf het.

21Want die Here kom uit sy woonplek,

Hy sal nou die mense op die aarde straf

omdat hulle baie sonde gedoen het.

Die mense sal moet sê

dat hulle ander mense vermoor het,

hulle sal nie daaroor kan stilbly nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help