Job 15 - Bybel vir almal

Elifas praat weer met Job

1Elifas van die land Teman het begin praat. Hy het gesê:

2“'n Man wat wysheid het,

moenie nonsens praat nie,

sy woorde moenie soos die wind wees nie.

3Sy antwoord moenie niks beteken nie,

hy moenie dinge sê wat niks help nie.

4Maar jý doen iets wat baie slegter is,

jy sal mense laat ophou om vir God te dien,

hulle sal nie meer oor Hom wil dink nie.

5Dit is jou sonde wat jou so laat praat

en wat vir jou sê om daardie slim woorde

te kies.

6Die dinge wat jy sê, wys dat jy skuldig is,

jou eie woorde wys dat jy verkeerd is.

7Job, dink jy dat jy die eerste mens is

wat gebore is?

Dink jy dat jy daar was voordat die heuwels

daar was?

8Luister jy wanneer God

en sy engele met mekaar praat?

Dink jy dit is net jy wat wysheid het?

9Wat weet jy wat ons nie weet nie?

Ons verstaan ook alles wat jy verstaan.

10Ons kry ons wysheid by die oumense,

by mense wat ouer is as jou pa.

11God wil vir jou troos

en Hy wil mooi met jou praat.

Beteken dit niks vir jou nie?

12Hoekom is jy kwaad,

hoekom lyk jou oë so kwaai?

13Hoekom wil jy met God raas,

hoekom sê jy hierdie dinge?

14Niemand is heeltemal rein nie,

niemand is onskuldig nie.

15Kan God sy engele vertrou

en is die hemel self rein genoeg vir Hom?

Nee.

16Hy kan mense nog minder vertrou,

mense wat sleg is, baie sleg,

mense wat aanhou om sleg te wees.

17Luister na my, ek wil iets vir jou leer,

ek wil vir jou sê wat ek self gehoor het.

18 Wyse mense het dit gesê,

hulle het dit gehoor by hulle voorvaders

in die tyd toe hulle die land gekry het.

Die land het toe net aan hulle behoort,

daar was nie ander mense by hulle nie.

19Die wyse mense het gesê:

20‘Die mens wat verkeerd doen,

die mens wat altyd ander mense

wil seermaak en doodmaak,

daardie mens is altyd bang,

so lank soos hy lewe.

21Hy hoor altyd dinge wat hom laat skrik.

Wanneer hy dink dat hy veilig is,

dan val mense hom aan,

mense wat alles wil verwoes.

22Hy kan nie hoop dat hy sal aanhou lewe nie,

daar is altyd mense wat hom wil doodmaak.

23Hy moet rondswerf om kos te kry,

hy weet dat sy dood naby is.

24Hy is bang, want dit is gevaarlik vir hom,

so gevaarlik soos wanneer 'n koning

moet gaan oorlog maak.

25Dit alles gebeur met hom omdat hy

sy vuis gewys het vir God,

omdat hy wou veg teen die Almagtige.

26Hy het vir God probeer aanval

soos 'n soldaat wat 'n sterk skild

voor hom hou,

27'n soldaat wat vet aan sy gesig

en sy lyf gesmeer het.

28Maar hy sal woon in stede wat verwoes is,

in huise waar mense nie kan woon nie,

huise wat net hope klippe sal wees.

29Hy sal nie ryk wees nie,

hy sal nie sy goed vir homself kan hou nie,

sy goed sal nie saam met hom gaan

in sy graf in nie.

30Hy sal sterf, dit is seker.

Hy is soos 'n boom,

sy takke sal verbrand,

die wind sal sy blomme wegwaai.

31'n Mens moenie homself bedrieg

en dink dat dinge hom kan help nie,

dinge wat niks beteken nie.

As hy dit dink, dan sál hy iets kry

wat niks beteken nie.

32Hy sal wees soos 'n boom

wat doodgaan voordat dit sy tyd is,

'n boom wat nie nuwe groen takkies kry nie.

33Hy sal wees soos 'n wingerdstok

wat sy groen druiwe laat afval,

of soos 'n olyfboom wat sy blomme

op die grond laat val.’

34Want wanneer mense bymekaarkom

wat nie vir God wil dien nie,

dan beteken die dinge wat hulle besluit, niks.

Wanneer mense presente neem om verkeerd te doen,

dan verbrand hulle huise.

35Dit is die mense wat aanhou om te dink

watter slegte dinge hulle kan doen,

die mense wat verkeerd doen

en wat ander mense bedrieg.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help