Job 28 - Bybel vir almal

Die wysheid

1Job het gesê:

“Dit is waar: Daar is 'n plek

waar mense silwer kan kry,

en daar is 'n plek

waar hulle goud kan uitgrawe.

2Hulle haal yster uit die grond

en hulle smelt koper uit klip.

3Hulle maak lig waar dit donker is,

hulle soek klippe oral waar hulle kan,

hulle soek tot in die donkerste diep plekke.

4Hulle grawe slote ver weg van waar

mense woon,

mense wat verbykom, weet nie van hulle nie,

en waar hulle aan toue hang en swaai,

is daar nie ander mense nie.

5Kos groei uit die aarde bo hulle,

maar onder die aarde verwoes hulle alles,

dit lyk of daar 'n vuur was.

6Daar is saffier in die rotse van die aarde

en daar is goud in die stof.

7Die arend ken nie daardie pad nie,

en die valk sien dit nie.

8Die trotse wilde diere loop nie daar nie,

die leeu loop nie daar verby nie.

9Die mense kap die harde rots

en hulle grawe diep onder die berge.

10Hulle kap slote in die rotse

en hulle soek alles wat kosbaar is.

11Hulle maak die plekke toe

waar daar water uitkom

en hulle kry dinge, niemand het

voorheen daarvan geweet nie.

12Maar die wysheid, waar kry 'n mens dit?

Waar kan jy leer om verstandig te wees?

13Mense weet nie hoe kosbaar die wysheid is nie,

en jy sal dit nie in hierdie wêreld kry nie.

14Die diep water sê:

‘Die wysheid is nie in my nie,’

die see sê: ‘Die wysheid is nie by my nie.’

15Jy kan nie wysheid koop nie,

ook nie met goud nie,

jy sal nie kan weeg hoeveel silwer

dit sal kos nie.

16Jy kan nie daarvoor betaal met goud uit Ofir,

of met kosbare oniks en saffier nie.

17Goud en glas sal nooit genoeg kan wees nie,

jy kan nie wysheid ruil vir goue juwele nie.

18En koraal of kristal

sal ook nie genoeg wees nie,

en ook nie pêrels nie,

wysheid is baie meer kosbaar as dit alles.

19 Topaas uit die land Kus

of die skoonste goud

sal nie genoeg wees nie,

jy kan nie daarmee

betaal vir wysheid nie.

20Maar die wysheid, van waar kom dit?

Waar kan jy leer om verstandig te wees?

21Niks wat lewe, kan die wysheid sien nie,

ook nie die voëls in die lug nie.

22Die onderwêreld en die dood sê:

‘Ons het net gehoor

dat mense praat van die wysheid,

maar ons het dit nie gekry nie.’

23Net God weet

waar 'n mens wysheid kan kry,

net Hy weet waar dit is,

24want Hy sien tot waar die aarde ophou,

Hy sien alles onder die hemeldak.

25Toe God besluit het hoe sterk

die wind moet wees

en hoeveel water daar

in die wolke moet wees,

26toe Hy besluit het waar

die reën moet val

en waarnatoe die donderstorm

moet gaan,

27toe het Hy die wysheid gesien

en Hy het daaroor gepraat,

Hy het gesê hoe dit moet wees,

en Hy het nog meer gedoen,

Hy het die wysheid ook getoets.

28En toe het Hy vir die mense gesê:

Wysheid is om die Here te respekteer

en te dien.

As jy verstandig wil wees, dan moet jy nie

verkeerd doen nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help