Psalms 80 - Bybel vir almal

U moet genadig wees en ons red

1Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied “Blomme.” Asaf getuig. 'n Psalm.

2O Herder van Israel, U moet luister.

U wat die nageslag van Josef lei

soos 'n herder sy skape en bokke lei,

u troon is bokant die gerubs,

U moet wys wie U is.

3U moet dit wys vir die stamme

Efraim, Benjamin en Manasse.

U moet wys dat U sterk is, U moet ons kom red.

4O God, U moet dit weer goed laat gaan met ons,

U moet genadig wees en ons red.

5Here, God wat oor alles regeer,

hoe lank sal U kwaad bly

en nie luister wanneer u volk bid nie?

6U het ons baie swaar laat kry.

Ons huil en treur die hele dag,

ons trane hou nie op om te val nie.

7U laat ons bure met mekaar stry

oor wie ons land moet vat,

ons vyande lag oor wat met ons gebeur.

8O God, U wat oor alles regeer,

U moet dit weer goed laat gaan met ons,

U moet genadig wees en U moet ons red.

9U het 'n wingerdstok uit Egipte geneem,

U het volke uit hulle woonplek gejaag

en U het die wingerdstok daar geplant.

10U het 'n plek gereedgemaak vir die wingerdstok

en dit het gegroei, oor die hele land tot by die see.

11Die berge was in die wingerdstok se skaduwee,

sy ranke was bo-oor die hoë sederbome.

12Sy ranke het gegaan tot by die see,

tot by die Eufraat-rivier.

13Hoekom het U die muur afgebreek

wat rondom die wingerdstok was?

Elkeen wat op die pad verbykom,

kon toe van sy druiwe pluk.

14Die bosvarke trap die wingerdstok plat,

die diere vreet dit op.

15O God, U wat oor alles regeer,

U moet asseblief afkyk uit die hemel

en weer goed wees vir hierdie wingerdstok.

16U self het die wingerdstok geplant,

U het hom sterk laat word.

17Die vyande het die wingerdstok verbrand,

hulle het dit afgekap.

U moet vir hulle wys dat U kwaad is,

U moet hulle laat verdwyn.

18Maar U moet die volk beskerm

wat U vir Uself gekies het,

hulle is die wingerdstok,

en U het die wingerdstok sterk laat word.

19Dan sal ons nie weer van U weggaan nie.

As U ons laat lewe, dan sal ons U aanhou prys.

20Here, God wat oor alles regeer,

U moet weer goed wees vir ons,

U moet genadig wees en ons red.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help