Hosea 13 - Bybel vir almal

Die mense van Efraim sal verdwyn

1Die Here het gesê:

“Lank gelede was almal bang

vir die mense van Efraim.

Al die Israeliete het gedink

die mense van Efraim

is die belangrikste.

Maar die mense van Efraim

het sonde gedoen,

hulle het vir Baäl gedien,

en daarom het hulle gesterf.

2Maar nou doen hulle nog meer sonde:

Hulle maak beelde.

Hulle vat silwer

en maak daarvan beelde

van afgode

soos hulle dink

die beelde moet lyk.

Ambagsmanne maak die beelde

wat soos 'n bul-kalf lyk,

en hulle sê die mense

wat wil offer,

moet die beelde soen.

3Daarom sal die mense

van Efraim verdwyn

soos 'n wolk in die oggend,

soos dou wat vroeg weggaan.

Hulle sal verdwyn

soos kaf wat wegwaai

van die dorsvloer,

soos rook wat kom

deur 'n gat in 'n huis se muur.

4“Toe hulle uit Egipte gekom het,

was Ek hulle God die Here.

Net Ek was naby hulle,

daar was nie 'n ander god

wat hulle kon red nie.

5Ek was saam met hulle

in die woestyn,

in die droë land.

6Maar toe Ek vir hulle

kos gegee het,

en hulle genoeg geëet het,

toe het hulle hoogmoedig geword

en hulle het vergeet dat Ek hulle God is.

7“Ek het toe besluit

Ek wil die mense

van Efraim doodmaak.

Ek het geword soos 'n leeu,

soos 'n luiperd wat langs die pad

vir hulle lê en wag.

8Ek was so kwaad

soos 'n beer-wyfie

wanneer iemand

haar kleintjies wegvat.

Soos 'n leeu wou Ek

hulle bors oopskeur

en hulle opvreet.

Soos 'n roofdier wou Ek

hulle stukkend skeur.

9“Ek wou hulle doodmaak,

want hulle was teen My,

hulle was teen die God

wat vir hulle gehelp het.

10Hulle koning is nou weg,

hy kon hulle nie help nie,

nie in een van hulle stede nie.

Hulle leiers is ook weg.

Die Israeliete het gesê:

‘Gee vir ons 'n koning

en amptenare.’

11Ek was kwaad vir hulle,

maar Ek het vir hulle

'n koning gegee,

en Ek het die koning weggevat

toe Ek baie kwaad was.”

Die dood moet hulle vat

12Die Here weet alles

wat die mense

van Efraim gedoen het,

Hy onthou al hulle sondes.

13Hulle was soos 'n baba

wat gebore moes word

maar wat te dom was om te weet

hoe hy uit sy ma

se liggaam kan kom.

14Die Here vra:

“Moet Ek nou betaal

sodat hulle nie

in die doderyk kom nie?

Moet Ek betaal

sodat hulle nie sterf nie?

Nee, die dood moet hulle vat

soos dorings 'n mens vashou,

soos wanneer bye

mense doodsteek

met hulle angels.

Ek is nie meer

jammer vir hulle nie.”

15Efraim is soos 'n groen plant

wat mooi groei tussen die riete,

maar die oostewind sal kom.

Die Here sal die wind stuur

uit die woestyn,

en daar sal niks water oorbly nie,

die fonteine sal leeg word.

Die vyande sal kom

en hulle sal die mooi goed vat,

hulle sal alles vat

wat die mense

bymekaargemaak het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help