Job 11 - Bybel vir almal

Sofar praat met Job

1Sofar van die land Naäma het begin praat. Hy het gesê:

2“Jy het baie gepraat,

en iemand moet jou antwoord,

niemand moet dink dat jy reg was

toe jy dit alles gesê het nie.

3Ons kan nie stilbly wanneer jy

al hierdie dinge sê nie,

jy het gespot, en iemand moet wys

dat jy verkeerd is.

4Jy sê jy verstaan dinge reg,

jy sê God weet

dat jy onskuldig is.

5Ek wens dat God self wil antwoord,

ek wens dat Hy met jou wil praat

6en dat Hy die geheime van die wysheid

vir jou wil vertel,

want ware wysheid het baie geheime.

Jy moet weet dat God jou nie straf oor alles

wat jy verkeerd gedoen het nie.

7Kan jy uitvind hoe groot God is,

kan jy uitvind of daar 'n plek is

waar die Allerhoogste God nie regeer nie?

8Jy kan soek, hoër as die hemel,

dieper as die doderyk,

maar jy sal nie kan uitvind hoe groot God is nie.

9Jy sal dit ook nie kan uitvind as jy

verder soek as die aarde en die see nie.

10Wie kan vir God keer

wanneer Hy verbykom

en Hy sluit iemand toe in die tronk

en Hy roep mense bymekaar

om die persoon te oordeel?

11Want God ken skynheilige mense,

Hy weet wanneer iemand verkeerd doen.

12'n Dwaas kan nie verstandig word nie,

en 'n wildedonkie se vul

is nie 'n mens wanneer hy gebore word nie.

13Job, as jy verstandig wil wees

en jy steek jou hande uit na God en jy bid,

14as jy ophou om verkeerd te doen

en daar is nooit sonde in jou huis nie,

15dan sal jy onskuldig wees,

jy sal nie skaam wees nie.

Jy sal sterk wees en jy sal vir niks

bang wees nie.

16Want jy sal vergeet dat jy swaargekry het,

jy sal dink dat dit soos water is

wat verbygevloei het.

17Die lig sal weer skyn in jou lewe,

die donker dinge sal verander in lig.

18Jy sal weer kan hoop,

jy sal rondkyk en dan sal jy

rustig gaan slaap.

19Jy sal gaan lê en jy sal

vir niemand bang wees nie,

mense sal graag jou vriende wees.

20Maar mense wat verkeerd doen,

sal niks meer kan sien nie,

hulle sal nie kan vlug nie,

hulle sal net wag om te sterf.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help