Spreuke 18 - Bybel vir almal

Die dinge wat 'n mens sê, kan soos diep water wees

1'n Selfsugtige mens lewe net vir homself,

hy hou nie van ware wysheid nie.

2'n Dwaas wil nie verstandig word nie,

hy wil net sê wat hy self dink.

3Iemand wat verkeerd doen,

beledig mense oral waar hy kom,

hy verneder hulle en hy laat hulle sleg voel.

4Die dinge wat 'n mens sê,

kan soos diep water wees,

soos 'n waterstroom wat vinnig vloei,

daar kan wysheid uitkom.

5Dit is nie goed om te sê iemand wat skuldig is,

is onskuldig nie,

want dan sê jy die persoon wat onskuldig is,

is skuldig.

6'n Dwaas wil altyd twis wanneer hy praat,

hy kry straf oor wat hy sê.

7Wanneer 'n dwaas praat,

dan laat hy dit sleg gaan met homself,

die dinge wat hy sê, is vir hom soos 'n vangstrik

wat hom vang.

8Skinderstories is soos lekkers,

mense glo graag skinderstories.

9Iemand wat nie sy werk goed doen nie,

is soos iemand wat alles afbreek.

10Die Naam van die Here is soos 'n sterk toring.

Wanneer jy aan Hom behoort en reg lewe,

dan is jy veilig.

11'n Ryk mens dink sy goed is soos 'n stad

wat sterk mure het,

hy dink sy goed sal hom beskerm soos 'n hoë muur.

12Die Here sal 'n hoogmoedige mens verwoes,

maar Hy sal 'n nederige mens belangrik laat word.

13Iemand wat nie goed luister

voordat hy antwoord nie,

doen 'n dom ding, en almal sal dink hy is dom.

14Wanneer 'n man aanhou hoop,

dan sal dit hom help wanneer hy siek is,

maar niemand kan aanhou lewe

as hy moedeloos is nie.

15'n Verstandige mens wil graag meer weet,

wyse mense luister, hulle wil leer.

16Wanneer iemand vir mense presente gee,

dan is hy welkom by hulle,

hy kan dan by belangrike mense staan.

17Dit lyk altyd of die persoon reg is

wat eerste praat in 'n hof,

maar wanneer iemand vir hom vrae begin vra,

dan lyk dit nie meer reg nie.

18Wanneer 'n mens vir die Here vra wie is reg,

dan kan mense ophou twis,

en dan kan sterk mense besluit om op te hou stry

oor wie reg is.

19'n Mens kan nie maklik inkom in 'n stad

wat sterk mure het nie,

ook nie in 'n paleis wat 'n sluitbalk

aan die poort het nie.

Jy kan ook nie maklik praat met 'n broer

wat kwaad is vir jou omdat jy

iets verkeerd gedoen het aan hom nie.

20Iemand wat die regte dinge sê, kry genoeg om te eet.

Hy het genoeg omdat hy weet wat om te sê.

21Woorde kan mense laat sterf of dit kan mense laat lewe.

As jy baie praat, dan kan daar goeie of slegte dinge

met jou gebeur.

22Wanneer iemand 'n vrou kry,

dan kry hy iets wat goed is,

die Here is goed vir hom.

23'n Arm mens moet altyd mooi soebat,

maar 'n ryk mens antwoord kwaai.

24Daar is party vriende wat net praat

maar wat niks help nie,

maar 'n vriend kan vir jou meer lief wees as 'n broer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help