Sefanja 1 - Bybel vir almal

1Die Here het met Sefanja gepraat. Dit was in die tyd toe Josia die koning van Juda was. Josia was die seun van Amon. Sefanja was die seun van Kusi, en Kusi was die seun van Gedalja. Gedalja was die seun van Amarja, en Amarja was die seun van Hiskia.

Ek sal alles wegvee van die aarde af

2Die Here sê:

“Ek sal alles wegvee

van die aarde af.

3Ek sal die mense en die diere

doodmaak en wegvee,

Ek sal die voëls in die lug

en die visse in die see wegvee.

Ek sal ook die slegte mense wegvee,

die mense wat gekeer het

dat ander mense reg doen.

Ek sal die mense doodmaak

en wegvat van die aarde af,”

sê die Here.

4“Ek sal die mense van Juda

en die mense in Jerusalem straf.

Ek sal almal doodmaak

wat nog die afgod Baäl dien.

Niemand sal die name onthou

van die afgode se priesters nie.

Ek sal al die priesters doodmaak,

5die priesters wat op die dakke staan

en vir die sterre buig,

die priesters wat voor die Here buig

en belowe om vir Hom

presente te bring,

maar wat ook belowe

om vir die afgod Milkom

presente te bring.

6Ek sal al die priesters doodmaak

wat opgehou het

om My te dien

en wat nie meer vir My vra

wat hulle moet doen nie.”

Die dag van die Here is naby

7Bly stil, die Here is naby!

Die dag van die Here is naby.

Die Here maak alles gereed,

Hy wil mense slag

soos 'n mens diere slag

om te offer.

Hy het hulle geroep

en Hy maak hulle reg

om hulle te offer.

8Die Here sê:

“Op daardie dag sal Ek

die amptenare

en die prinse straf,

almal wat klere dra van ander lande.

9Ek sal almal straf

wat nie by die tempel se deur

inloop nie, maar wat daar inspring

soos die heidene altyd doen.

Ek sal almal straf

wat wrede dinge doen aan mense.

Hulle steel die mense se goed

en dan bring hulle die gesteelde goed

na die tempel van hulle Koning,

die Here.”

10Die Here sê:

“Daardie dag sal hulle hoor

hoe roep die mense

by die Vis-poort,

hulle sal hoor hoe huil die mense

in die Tweede Stad.

Hulle sal hoor

hoe die heuwels stukkend breek.

11Mense wat in die Vysel woon,

julle moet huil,

want die handelaars sal sterf.

12Op daardie dag

sal Ek al die mense soek

wat in Jerusalem

in die donker wegkruip,

die mense wat tevrede is

en dink hulle het niks nodig nie.

Ek sal hulle straf.

Hulle is die mense wat sê:

‘Die Here sal niks doen nie,

nie iets wat goed is

of iets wat sleg is nie.’

13Vyande sal hierdie ryk mense

se goed wegvat

en hulle huise afbreek.

Hulle sal weer huise bou,

maar hulle sal nie

in die huise woon nie.

Hulle sal wingerde plant,

maar hulle sal nie druiwe kry

om wyn te maak nie.”

14Die groot dag van die Here is naby,

dit is baie naby, dit kom gou.

Dit sal 'n baie slegte dag wees,

en die soldate sal skree.

15Op daardie dag

sal die Here kwaad wees.

Op daardie dag

sal die mense swaarkry.

Op daardie dag

sal die stormwinde waai.

Op daardie dag

sal dit baie donker wees.

Op daardie dag

sal daar donderwolke wees.

16Op daardie dag

sal die vyande

die ramshoring blaas

en hulle sal skree.

Hulle sal kom

en hulle sal die sterk mure

en die hoë torings

van die stede aanval.

Die Here is baie kwaad

17Die Here sê:

“Ek sal die mense laat swaarkry,

want hulle het sonde gedoen teen My.

Hulle sal loop soos blinde mense,

hulle bloed sal op die grond val

soos stof

en hulle derms sal uitkom

uit hulle liggame.”

18Hulle het baie silwer en goud,

maar dit sal hulle nie help

op die dag

wanneer die Here

hulle wil straf nie.

Die Here is baie kwaad.

Hy sal die hele aarde verwoes.

Hy sal al die mense op die aarde

vinnig laat sterf.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help