Obadja 1 - Bybel vir almal

1Die Here het vir Obadja gewys

wat sal gebeur.

Die Here het gepraat oor die mense

van die land Edom,

en dit is wat ons gehoor het.

Ek sal julle 'n klein volkie maak

Dit was toe die volke vir mekaar

boodskappe gestuur het

en gesê het: “Julle moet gereedmaak,

ons moet oorlog gaan maak

teen die Edomiete!”

2Die Here het vir die Edomiete gesê:

“Ek sal julle 'n klein volkie maak,

almal sal dink julle beteken niks.

3Julle het gedink julle is veilig,

maar julle het 'n fout gemaak.

Julle woon hoog in die berge

tussen die rotse

en julle dink niemand

kan julle afbring ondertoe nie.

4Maar Ek sal julle afbring,

ook wanneer julle soos 'n aasvoël

teen die hoogste berge gaan woon,

of wanneer julle vir julle 'n stad

tussen die sterre bou.

5Wanneer diewe in die nag

julle goed kom steel,

dan steel hulle totdat hulle genoeg het

en dan hou hulle op.

Wanneer ander mense

julle druiwe kom pluk,

dan laat hulle party druiwetrosse oorbly.

Maar die vyande sal niks van julle

laat oorbly nie.

6 Nageslag van Esau,

die vyande sal alles soek

wat julle weggesteek het,

en hulle sal dit kry.

7Hulle sal julle

wegjaag uit julle land.

Julle eie vriende het 'n ooreenkoms

gemaak met julle,

maar hulle sal vir julle

wag langs die pad

en hulle sal julle aanval.

Julle het vir hulle kos gegee,

maar hulle sal julle aanval

op 'n plek

waar julle dit nie verwag nie.”

8Die Here het ook gesê:

“Die mense in die land Edom,

in die Esau-berge,

dink hulle is baie slim,

maar daardie dag sal Ek

hulle doodmaak.

9Mense van die stad Teman,

julle soldate sal te bang wees

om te veg.

Die vyande sal almal

op die Esau-berge doodmaak.

Julle het mense vermoor,

10julle was wreed

met die nageslag van Jakob,

julle voorvader se broer.

Daarom sal dit met julle

ook sleg gaan.

Julle vyande sal julle doodmaak.”

Julle Edomiete sal voel hoe dit is wat julle gedoen het

11“Mense uit 'n ander land

het oorlog kom maak teen Jerusalem.

Hulle het al die stad

se soldate weggevat

en hulle het lootjies getrek oor die mense

en die goed in die stad.

Hulle wou kyk

wat elkeen moet kry.

Toe het julle gestaan en kyk.

Julle was saam met die vyande.

12Die mense van Jerusalem

was familie van julle.

Julle het verkeerd gedoen

toe julle gestaan en kyk het

hoe sleg dit met hulle gaan.

Julle was bly toe die vyande

die mense van Juda

doodgemaak het.

Julle het gestaan en lag

toe hulle so swaar gekry het.

13Julle het in my volk

se stad ingegaan

toe die vyande hulle oorwin het.

Julle het gestaan en kyk

toe die vyande hulle oorwin het

en julle het hulle goed vir julleself gevat.

14Julle het langs die pad

gestaan en wag

om die mense van Juda

dood te maak

toe hulle gevlug het.

Julle het die mense

wat nog gelewe het,

vir die vyande gegee,

daardie dag toe dit so sleg

met hulle gegaan het.

Julle het verkeerd gedoen,

julle moes nie dit alles

gedoen het nie.

15Die dag wanneer die Here

al die ander volke sal straf,

is nou naby.

Dan sal ander mense met julle doen

wat julle met die mense

van Juda gedoen het.

Julle Edomiete sal voel

hoe dit is wat julle gedoen het.”

Die nageslag van Jakob sal hulle eie land terugvat

16“Die mense van Juda

moes die beker van swaarkry drink

op my gewyde berg.

So sal die ander volke

dit ook moet aanhou drink.

Hulle sal drink en drink

en hulle sal verdwyn.

17Maar op Sionsberg

sal dit weer goed gaan.

Dit sal weer 'n gewyde plek wees.

Die nageslag van Jakob

sal hulle eie land terugvat,

die land wat aan hulle behoort het.

18Die nageslag van Jakob

sal wees soos 'n vuur,

die nageslag van Josef

sal wees soos vuurvlamme,

en julle, die nageslag van Esau,

sal wees soos kaf wat brand.

Daar sal niks oorbly nie.

19Die mense van Juda

sal die Suid-land,

die Esau-berge,

vir hulleself vat,

en die Laeveld

waar die Filistyne woon,

en ook die land

waar die Efraimiete gewoon het

en waar die stad Samaria was.

Die mense van die land Benjamin

sal die land Gilead vir hulleself vat.

20Die vyande het party

van die Israeliete gevang

en na ander lande gevat.

Israeliete sal nou die land vat

waar die Kanaäniete woon,

tot by die stad Sarfat.

Die vyande het party mense

van Jerusalem gevang

en na die stad Sefarad gevat.

Daardie mense sal nou die stede

in die Suid-land vir hulleself vat.

21Die mense wat vir Sionsberg

vrygemaak het,

sal gaan om oor die Esau-berge

te regeer,

en die Here self sal die Koning wees.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help