Jesaja 54 - Bybel vir almal

My liefde vir jou sal nie verdwyn nie

1Die Here sê:

“Jerusalem, jy is soos 'n vrou

wat nie kinders kon kry nie,

maar jy moet juig en baie bly wees,

want jy wat alleen was,

sal meer kinders hê as 'n getroude vrou.

2Jy moet jou tent groter maak,

jy moet die tentseile wyer maak,

jy moet die toue langer maak,

en jy moet jou tentpenne sterker maak.

3Want jy sal groter word na al die kante toe,

jou nageslag sal ander volke oorwin

en hulle sal weer woon in die stede

waar nou niemand is nie.

4Jy moenie bang wees nie,

jy moenie dink jy beteken niks nie.

Jy moenie skaam wees nie,

want niemand sal jou weer verneder nie.

Jy sal die tyd vergeet

toe jy 'n jongmeisie was

en toe jy 'n weduwee was,

toe ander mense jou gespot het.

5Want die Een wat jou gemaak het,

is jou Man,

sy Naam is Here wat oor alles regeer.

Jou Bevryder

is die Heilige God van Israel,

sy Naam is God van die hele aarde.”

6Jerusalem, jou God sê:

“Jy was soos 'n vrou,

haar man wou haar nie meer hê nie.

Toe Ek jou geroep het,

was jy soos 'n vrou met wie 'n man getrou het

toe hy nog jonk was,

maar later het hy haar weggejaag.

Jy was baie hartseer.

7Ek het jou 'n kort tydjie gelos,

maar nou neem Ek jou weer terug

en Ek is weer baie lief vir jou.

8Ek het kwaad geword

en Ek wou jou 'n kort tydjie nie sien nie,

maar Ek sal weer jammer wees vir jou

en Ek sal altyd lief wees vir jou.”

Dit sê die Here wat jou vrymaak.

9“Dit is vir My soos die watervloed van Noag.

Ek het belowe dat die water van Noag nie weer

die aarde sal toemaak nie,

en nou belowe Ek dat Ek nie sal aanhou

om kwaad te wees vir jou nie.

Ek belowe dat Ek nie sal aanhou raas met jou nie.

10Ja, die berge en die heuwels sal verdwyn,

maar my liefde vir jou sal nie verdwyn nie.

Ek sal ook nie my verbond met jou breek nie,

die verbond wat Ek met jou gemaak het

toe Ek belowe het dat Ek vir jou vrede sal gee.”

Dit sê die Here wat jammer is vir jou

en wat jou terugneem.

11“Jerusalem, jy is 'n stad

wat jouself nie kon help nie.

Die stormwinde het oor jou gewaai,

niemand het jou gehelp nie.

Maar kyk, Ek bou jou klippe vas

op mekaar met harde klei,

Ek bou jou fondamente van saffier.

12Ek maak jou torings van robyne

en jou poorte van smarag,

Ek bou jou muur van edelstene.

13Al die mense wat in jou woon,

sal leerlinge van die Here wees,

en hulle sal vrede hê.

14Jou mense sal reg doen.

Jy moenie bang wees nie,

niemand sal jou weer verdruk nie,

jy sal nie weer skrik nie.

15Wanneer iemand jou aanval,

dan sal dit nie Ek wees

wat hom gestuur het nie.

Iemand wat jou aanval,

sal self val en verloor.

16Dit is Ek wat die ambagsmanne gemaak het,

die ambagsmanne wat 'n houtskoolvuur

warm blaas en wat wapens maak.

Dit is Ek wat die mense gemaak het

wat verwoes en afbreek.

17Maar die wapens

wat hulle maak om jou aan te val,

sal niks kan doen nie,

en jy sal wys dat elkeen wat jou vals beskuldig,

self skuldig is.

Dit sal Ek doen vir die mense wat My dien,

Ek sal reg doen aan hulle.”

Dit sê die Here.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help