Jesaja 59 - Bybel vir almal

Julle sondes staan tussen julle en julle God

1Julle dink dit is die Here

wat julle nie kan red nie,

julle dink dit is Hy

wat julle nie kan hoor nie.

2Maar dit is julle sondes

wat tussen julle en julle God is.

Dit is hoekom Hy julle nie wil hoor

en julle nie wil sien nie.

3Julle het mense vermoor,

daarom is julle onrein.

Julle lieg en julle praat sleg

oor ander mense.

4Daar is niemand wat eerlik praat nie,

niemand wat regverdig

oor mense oordeel nie.

Hulle straf mense oor dinge

wat die mense nie gedoen het nie.

Hulle laat mense swaarkry

wat nie verkeerd gedoen het nie.

5Hulle is soos mense

wat slange se eiers uitbroei.

As jy 'n slang se eiers eet,

dan sal jy sterf,

en as jy op die eiers druk,

dan kom daar slange uit.

Hulle is ook mense

wat drade maak soos spinnekoppe,

6maar hulle kan nie klere maak

van die drade nie,

en hulle kan hulle nie

daarmee toemaak nie.

Alles wat hulle doen, is sonde,

hulle hou aan om slegte dinge te doen

aan mense.

7Hulle doen graag slegte dinge,

hulle maak graag mense dood.

Hulle dink net aan verkeerde dinge

om te doen,

hulle verwoes en breek alles

waar hulle gaan.

8Hulle weet nie hoe om vrede te maak nie,

en ook nie hoe om reg te doen

aan ander mense nie.

Hulle lewe verkeerd,

mense wat lewe soos hulle lewe,

sal nie vrede hê nie.

Ons sondes wys ons is skuldig

9Daarom is daar by ons

niks wat reg is nie,

en niemand by ons doen reg nie.

Ons het gewag vir lig,

maar daar is net donker,

ons het gehoop die lig sal skyn,

maar ons loop in die donker.

10Ons vat-vat aan die muur

soos blinde mense,

ons voel rondom ons soos mense

wat nie kan sien nie.

Ons val in die helder dag

soos wanneer dit donker is.

Ons is soos dooie mense

tussen gesonde mense.

11Ons brom almal soos bere,

ons hou aan om te kla soos duiwe.

Ons wag dat mense weer

reg sal doen aan ons,

ons wag dat iemand ons moet help,

maar dit gebeur nie.

12Dit is omdat ons

so baie opstandig was teen U.

Ons sondes wys ons is skuldig,

ons weet ons was baie opstandig,

ons ken ons sondes.

13Ons was opstandig teen die Here,

ons het gemaak of ons Hom nie ken nie,

ons het weggedraai van ons God.

Ons het planne gemaak

om slegte dinge te doen aan mense

en om opstandig te wees teen die Here.

Ons het gedink

watter leuens ons kan vertel.

14Niemand van ons het reg gedoen

aan ander mense nie,

niemand was regverdig nie.

Niemand het die waarheid gepraat

in ons strate nie,

daar was nie plek vir iets

wat reg is nie.

15Ja, almal het leuens vertel.

Wanneer iemand opgehou het

om verkeerd te doen,

dan het ander mense alles gevat wat hy het.

Die Bevryder sal na Sion kom

Die Here het alles gesien.

Hy was kwaad omdat niemand

reg doen nie.

16Hy het dit gesien

en Hy was verbaas

dat niemand iets wil doen

om dit te verander nie.

Daarom het Hy dit self gedoen,

met sy eie krag.

17Die Here het gereedgemaak

om reg te doen en om ons te red,

Hy wou sy vyande straf

oor die dinge wat hulle gedoen het,

want Hy was baie kwaad.

18Hy sal sy vyande straf,

ook die vyande in die ver lande

langs die see,

want Hy is kwaad oor alles

wat hulle gedoen het aan sy volk.

19Al die mense,

van die weste tot die ooste,

sal bang word

wanneer hulle die Naam van die Here hoor,

want hulle sal weet Hy is die Koning.

Hy sal kom soos 'n vol rivier

en soos 'n stormwind.

20Die Bevryder sal na Sion kom,

na die mense in Juda

wat ophou om opstandig te wees.

Dit sê die Here.

21Die Here sê: “Ek belowe dat my Gees en my woorde

by julle sal bly,

en ook by julle nageslag, nou en altyd.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help