Job 40 - Bybel vir almal

Die Here praat weer met Job

1Toe het die Here weer met Job gepraat. Die Here was in 'n stormwind en Hy het gesê:

2“Job, jy moet gereedmaak,

jy moenie bang wees nie.

Ek sal vra, en jy moet my antwoord.

3Wil jy regtig sê dat Ek verkeerd is,

wil jy sê dat Ek skuldig is en dat jy

onskuldig is?

4Is jy so sterk soos God?

Kan jy soos God die donderweer

laat raas en dreun?

5As jy dit kan doen,

wys dan dat jy ook 'n koning is,

dat jy sterk is en dat almal

jou moet respekteer.

6Wys hoe kwaad jy is,

kyk na elke mens wat hoogmoedig is,

en verneder hom.

7Kyk na elke mens wat hoogmoedig is,

en verneder hom, trap die mens

wat verkeerd doen, plat,

trap hom daar waar hy staan.

8Begrawe hulle in die grond,

sluit hulle toe in die doderyk.

9As jy dit kan doen, dan sal Ek jou prys,

want dan het jy gewen.”

Die seekoei

10“Maar kyk ook na die seekoei.

Toe Ek jou gemaak het,

het Ek ook die seekoei gemaak.

Hy vreet gras soos 'n bees.

11Hy is 'n sterk dier,

sy liggaam is vol spiere.

12Hy hou sy stert so reguit

soos 'n sederboom,

en hy het sterk spiere in sy bene.

13Die bene in sy lyf is so sterk

soos waterpype van brons,

so sterk soos stukke yster.

14Hy is die belangrikste dier,

God het hom gemaak,

en net God kan hom oorwin.

15Hy kry sy kos in die berge

waar al die wilde diere speel.

16Hy lê onder die waterplante,

hy kruip weg tussen die riete in die vlei.

17Die waterplante maak hom toe,

hulle skaduwee beskerm hom,

en rondom staan die populierbome

wat in die valleie groei.

18Wanneer die rivier vol word,

dan skrik hy nie,

hy staan stil as die Jordaan-rivier

se water teen sy bek vloei.

19Niemand kan sy oë toedruk

en hom aan sy neus vang nie.”

Die krokodil

20God het vir Job gesê:

“Kan jy 'n krokodil uit die water trek

met 'n hoek,

en kan jy sy bek toebind met 'n tou?

21Kan jy 'n tou van biesies

deur sy neus steek en kan jy 'n hoek

vasmaak aan sy kakebeen?

22Sal hy aanhou om mooi te vra

dat jy hom moet los,

sal hy aanhou soebat?

23Sal hy 'n ooreenkoms maak met jou

sodat hy altyd jou slaaf sal wees?

24Kan jy met hom speel soos

met 'n voëltjie?

Kan jy hom vasbind en hom wys

vir jou slavinne?

25Kan mense hom vang en verkoop

en in stukke sny vir die handelaars?

26Kan hulle spiese deur sy vel gooi

en 'n ysterhaak aan sy kop sit?

27As jy een maal aan hom geraak het,

dan sal jy dit nie weer probeer doen nie,

jy sal daardie oorlog onthou.

28Jy moet dit weet, jy sal nie kan wen nie,

jy sal val wanneer jy net kyk na hom.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help