Psalms 58 - Bybel vir almal

Die Here sal die mense wat verkeerd doen, laat verdwyn

1Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied “Moenie verwoes nie.” Van Dawid. 'n Lied.

2Is dit regtig reg wat julle sê,

julle wat oor die mense moet regeer?

Is julle regverdig wanneer julle die mense oordeel?

3Nee, julle dink altyd hoe julle verkeerde dinge kan doen,

julle doen slegte dinge aan mense in die land.

4Mense wat verkeerd doen, mense wat aanhou lieg,

doen die verkeerde dinge vandat hulle gebore is.

5Alles wat hulle sê, is soos 'n slang se gif,

soos die gif van 'n giftige slang

wat maak of hy niks hoor nie

6en wat nie wil luister na die mense

wat met slange speel nie,

die slim mense wat weet hoe om met slange te praat.

7O God, U moet die mense wat verkeerd doen

se tande uit hulle mond uitbreek.

Here, hulle is soos leeus met skerp tande,

maar U moet hulle tande uitslaan.

8U moet hulle laat verdwyn

soos water wat in die grond insak,

U moet hulle pyle stukkend trap

soos 'n mens droë gras trap.

9U moet hulle laat word soos slakke

wat smelt en verdwyn terwyl hulle loop,

U moet hulle laat word soos 'n kind

wat doodgebore is en wat nooit

die son gesien het nie.

10Die Here sal hulle laat verdwyn,

vinniger as doringtakke wat brand onder 'n pot,

ook die takke wat nog groen is.

11Die mense wat reg doen, sal baie bly wees

wanneer hulle sien hoe die Here

die mense straf wat verkeerd doen.

Dit sal wees soos wanneer iemand sy voete was

in die bloed van sy vyande.

12Mense sal sê: “Waarlik,

dit sal goed gaan met die mens wat reg doen.

Daar is 'n God wat die mense op die aarde reg oordeel.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help