Job 32 - Bybel vir almal

Elihu praat

1Die drie manne het opgehou om met Job te praat, want hy het aangehou sê dat hy onskuldig is.

2Maar toe het Elihu kwaad geword vir Job. Elihu was die seun van Barakel. Barakel was van die Ram-familie, van die nageslag van Bus. Elihu het kwaad geword omdat Job gesê het hý is reg en God is verkeerd.

3Elihu was ook kwaad vir Job se drie vriende omdat hulle nie geweet het wat om vir Job te antwoord nie. Hulle het net gesê dat Job verkeerd gedoen het.

4Elihu wou nie dadelik met Job praat nie, want die drie vriende was ouer as hy.

5Maar toe hy sien dat die drie vriende nie vir Job kan antwoord nie, het hy kwaad geword.

6Elihu seun van Barakel, van die nageslag van Bus, het begin praat en hy het gesê:

“Ek is jonk, en julle is oud,

daarom het ek gewag, ek was bang

om vir julle te sê wat ek weet.

7Ek het gedink ouer mense moet eerste praat,

want hulle weet wat wysheid is.

8Maar nee, dit is die gees in 'n mens,

die gees wat die Almagtige gee,

wat 'n mens verstandig maak.

9'n Mens kry wysheid nie net

omdat jy oud geword het nie,

'n mens weet wat reg is

nie net omdat jy 'n oumens is nie.

10Daarom sê ek: Luister na my,

ek wil ook sê wat ek weet.

11Onthou, ek het gesê ek het gewag

totdat julle eerste gepraat het,

ek het geluister na die slim dinge

wat julle gesê het

terwyl julle gesoek het

na die regte woorde.

12Ek het goed geluister

na wat julle sê,

maar niemand kon wys

dat Job verkeerd is nie,

nie een van julle kon hom

reg antwoord nie.

13Oppas, julle moenie sê: ‘Ons

het wysheid gekry’ nie.

'n Méns kan nie vir Job antwoord nie,

net God kan dit doen.

14Job het nie met mý gepraat nie,

en ek sal hom nie antwoord

soos julle dit probeer doen het nie.

15Job, jou vriende weet nie meer

wat om te sê nie, hulle is deurmekaar.

16Maar ek sal nie langer wag nie,

want hulle sê niks, hulle staan net daar,

hulle praat nie meer met jou nie.

17Nou wil ek ook iets doen,

ek wil sê wat ek weet.

18Want ek het baie

wat ek wil sê,

ek kan nie stilbly nie.

19Ja, ek voel soos 'n wynsak

wat wil bars, die woorde

waaraan ek dink,

is so baie.

20Ek moet praat,

dan sal ek beter voel,

ek sal sê wat ek wil sê.

21Ek wil nie téén een mens wees

en 'n ander mens kies nie,

ek wil niemand te veel prys nie.

22Ek prys nie graag mense nie,

en wanneer ek dit doen,

dan sal God my dadelik straf,

God wat my gemaak het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help