Jesaja 19 - Bybel vir almal

Die Egiptenaars

1Die Here was kwaad

en Hy het oor Egipte gepraat.

Wanneer die Here op 'n vinnige wolk ry

en na Egipte kom,

dan bewe die gode van Egipte,

en word die Egiptenaars bang.

2Die Here sê:

“Ek sal die Egiptenaars kwaad maak

vir mekaar

en hulle sal oorlog maak teen mekaar,

broer teen broer,

buurman teen buurman.

Die een stad sal oorlog maak

teen die ander stad,

en die een deel van die land

teen die ander deel van die land.

3Die Egiptenaars sal nie weet

wat om te doen nie,

Ek sal hulle planne laat misluk.

Hulle sal vir die afgode vra

wat om te doen,

en vir die mense

wat met geeste praat.

4Ek sal die Egiptenaars

vir 'n wrede koning gee,

'n kwaai koning sal oor hulle regeer.”

Dit sê die Here, die Here wat oor alles regeer.

5Daar sal nie meer water

in die Nyl-rivier wees nie,

6die waterslote sal stink

wanneer daar nie meer water is nie,

en wanneer die riete en biesies droog word.

7Die plante sal doodgaan

langs die Nyl-rivier en by die plek

waar die rivier in die see vloei.

Alles wat die mense langs die Nyl gesaai het,

sal droog word,

dit sal wegwaai en verdwyn.

8Die mense wat vishoeke en visnette

in die Nyl-rivier gooi,

sal huil en treur,

die vissermanne sal sterf,

want hulle sal nie kos hê om te eet nie.

9Die mense wat met vlas werk

en wat dit kam om linne te maak,

sal niks vlas hê om te kam nie.

10Die mense wat lappe weef

om klere te maak,

sal net daar sit,

die mense wat moet werk

om geld te kry,

sal niks hê nie.

11Die amptenare in die stad Soan,

die raadgewers van die farao,

is dwase,

hulle help nie die farao

om reg te besluit nie.

Hulle kan nou nie meer vir die farao

sê dat hulle slim is

en dat hulle die kinders is

van die konings van lank gelede nie.

12Daar is nie wyse mense

in Egipte nie,

hulle kan nie vir die farao sê

wat die Here met Egipte wil doen nie,

die Here wat oor alles regeer.

13Die amptenare van die stede

Soan en Nof is dom,

hulle weet nie wat om te doen nie.

Hulle is die leiers van stamme,

maar hulle het die mense van Egipte

verkeerd laat doen.

14Dit is die Here wat die amptenare

deurmekaar gemaak het,

en die amptenare het die Egiptenaars

verkeerd laat doen.

Die Egiptenaars val soos dronk mense

wat naar word en opgooi

en daarin trap.

15Die Egiptenaars weet nie

wat om te doen nie,

die leiers weet nie,

en die slawe weet ook nie.

Die Egiptenaars en die Assiriërs sal die Here dien

16Eendag sal die Egiptenaars so bang wees soos vroue. Hulle sal skrik en bewe wanneer die Here begin om hulle te straf, die Here wat oor alles regeer.

17Die Egiptenaars sal bang wees vir die mense van Juda. Hulle sal skrik wanneer hulle hoor van die land Juda. Die Egiptenaars sal bang wees wanneer hulle hoor wat die Here met hulle wil doen, die Here wat oor alles regeer.

18Daardie dag sal die mense van vyf stede in Egipte die taal praat van die mense in die land Kanaän, en wanneer hulle iets belowe, dan sal hulle die Naam van die Here noem, die Here wat oor alles regeer. Een van die stede se naam sal wees: Die-Stad-Wat-Verwoes-Is.

19Daardie dag sal daar in Egipte 'n altaar vir die Here wees, en op die grens van Egipte sal 'n klip-paal vir die Here wees.

20Dit sal in Egipte die teken wees dat die land behoort aan die Here wat oor alles regeer. Wanneer die Egiptenaars swaarkry omdat mense hulle verdruk, dan sal die Here iemand stuur om hulle te red, en hy sal hulle help en vrymaak.

21Die Here sal vir die Egiptenaars sê wie Hy is, en hulle sal Hom leer ken. Hulle sal diere vir Hom offer en ete-offers bring, hulle sal vir die Here dinge belowe en hulle sal dit doen.

22Die Here sal die Egiptenaars straf, maar daardie straf sal hulle gesond maak. Hulle sal verander en lewe soos die Here wil hê. Hy sal luister wanneer hulle bid, en Hy sal hulle gesond maak.

23Daardie dag sal daar 'n pad van Egipte tot by Assirië wees. Die Assiriërs sal in Egipte kom en die Egiptenaars sal in Assirië kom. Hulle sal saam die Here dien.

24Daardie dag sal die Israeliete ook so belangrik wees soos die Egiptenaars en die Assiriërs, en daarom sal die Here die mense van die aarde seën.

25Die Here wat oor alles regeer, sal hulle seën en sê: “Dit sal goed gaan met my volk Egipte, dit sal goed gaan met Assirië wat Ek gemaak het, dit sal goed gaan met Israel wat aan My behoort.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help