Jeremia 10 - Bybel vir almal

Beelde kan niks doen nie

1Mense van Israel, julle moet hoor wat sê die Here vir julle.

2Hy sê: “Julle moenie doen soos die heidene nie.

Julle moenie bang wees vir tekens in die lug nie,

want die heidene is bang daarvoor.

3Die dinge wat die heidene doen, is soos wind.

Iemand kap 'n stuk hout af in die bos

en 'n ambagsman kap dit reg met 'n byl.

4Hy trek dit oor met silwer en goud

en hy slaan dit vas met spykers

sodat dit nie omval nie.

5Die beeld staan daar soos 'n pilaar

wat iemand oorgetrek het met goud.

Dit praat nie, en iemand moet dit dra,

want dit kan nie loop nie.

Julle moenie bang wees vir beelde nie,

want hulle kan niks doen nie,

nie goed nie en nie sleg nie.”

6Here, niemand is soos U nie, U is groot,

almal weet U is sterk.

7U is Koning oor die volke,

en almal moet U eer,

want by al die wyse mense

en al die konings van die volke

is daar niemand soos U nie.

8Die heidene is dom en dwaas,

want hulle gode kan vir hulle niks leer nie,

dit is stukke hout wat niks beteken nie.

9Hulle bring silwer uit die land Tarsis,

hulle trek die beelde oor met silwer en goud

en hulle trek vir die beelde klere aan

van pers en rooi wol.

Ambagsmanne doen al hierdie werk.

10Maar die Here is die ware God wat lewe,

Hy is Koning vir altyd,

en al die mense op die aarde bewe

wanneer Hy kwaad is.

11Julle moet vir die heidene sê daardie gode

wat nie die hemel en die aarde gemaak het nie,

sal verdwyn van die aarde af.

12Die Here het die aarde en die hemel gemaak.

Hy het dit gedoen met sy krag en sy wysheid.

13Wanneer Hy praat, dan raas die water in die hemel.

Hy bring die wolke van ver oor die aarde,

Hy laat die weerlig slaan en die wind waai.

14Maar mense wat beelde maak en hulle dien,

is dom, hulle weet niks.

Die beelde kan vir hulle niks doen nie,

daar is nie lewe in hulle nie.

15Hulle is soos wind wat wegraak,

mense lag vir hulle, hulle sal verdwyn.

16Maar die God van Jakob is nie soos die beelde nie,

want Hy het alles gemaak.

Die Israeliete is sy eie volk.

Sy Naam is Here wat oor alles regeer.

Moenie so kwaad wees dat U niks van ons laat oorbly nie

17Mense van Juda, die vyande is rondom julle,

julle moet die goed bymekaarmaak

wat julle kan saamdra,

18want die Here sê Hy sal die mense

wat in hierdie land woon, ver weggooi

soos wanneer iemand 'n klip

met 'n slingervel gooi.

Hy het die vyande gebring om die mense van Juda

in die stede te vang en weg te vat.

19Die mense van Juda en Jerusalem sal sê:

“Dit gaan sleg met ons, ons is naby die dood.

Ons het regtig gedink ons sal maklik die swaarkry kan dra,

20maar nou is ons soos mense wie se tente verwoes is:

Die tente se toue is stukkend, ons seuns is weg,

en daar is niemand wat vir ons kan help

om die tente se seile weer styf te trek nie.”

21Dit is so, want die leiers was soos herders wat dwaas geword het,

hulle het nie vir die Here gevra wat hulle moet doen nie.

Daarom het dit nie goed gegaan met hulle nie,

vyande het hulle mense soos skape

na al die kante toe gejaag.

22Ek hoor die vyande kom uit die noorde,

hulle raas en hulle kom

om die stede van Juda te verwoes

en die mense weg te vat.

Net jakkalse sal daar woon.

23Here, ek weet 'n mens kan nie self besluit

oor wat met hom sal gebeur

en hoe dit met hom sal gaan nie.

24Here, gee vir ons die straf wat ons moet kry,

maar U moenie so kwaad wees

dat U niks van ons laat oorbly nie.

25U moet kwaad wees vir die volke

wat U nie ken en dien nie,

want hulle het die nageslag van Jakob doodgemaak

en hulle woonplek verwoes.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help