Hooglied 5 - Bybel vir almal

1Hy sê: “My suster, my bruid, ek kom na my tuin,

ek pluk my mirre saam met my kruie,

ek eet my heuningkoek saam met my heuning,

ek drink my wyn saam met my melk.”

Vriende, julle moet eet, vriende, julle moet drink,

julle moet dronk word van die liefde.

Ek het hom gesoek, maar ek het hom nie gekry nie

2Sy sê: “Ek het geslaap, maar my hart

het wakker gebly.

Ek hoor toe dat die man teen die deur klop,

die man vir wie ek lief is,

hy het gesê: ‘My suster, my liefste,

my duif, jy is perfek.

Jy moet die deur vir my oopmaak,

my kop is nat van die dou,

my hare het nat geword in die nag.’

3Ek het geantwoord: ‘Ek het al klaar

my rok uitgetrek,

hoekom moet ek weer aantrek?

Ek het klaar my voete gewas,

hoekom moet ek hulle weer vuil laat word?’

4Maar toe het die man vir wie ek lief is,

sy hand deur die gat in die deur gesteek,

en toe begin my hart vinnig klop oor hom.

5Ek het opgestaan om die deur oop te maak

vir die man vir wie ek lief is.

Toe my hande aan die deur se slot raak,

het die mirre afgedrup van my hande,

het die mirre afgeloop van my vingers.

6Ek het die deur oopgemaak vir die man

vir wie ek lief is,

maar toe was hy nie daar nie, hy was weg!

Ek het gedink ek sal hom volg,

ek het hom gesoek, maar ek het hom nie gekry nie,

ek het hom geroep, maar hy het nie geantwoord nie.

7Die polisie wat in die stad loop, het my gekry,

hulle het my geslaan en seergemaak,

die wagte op die mure het my kopdoek afgeruk.

8Vroue van Jerusalem, julle moet dit vir my belowe:

Wanneer julle die man kry vir wie ek lief is,

dan moet julle vir hom sê ek is so lief vir hom

dat ek siek geword het.”

Hoe lyk die man vir wie jy lief is?

9Die vroue sê: “Mooiste van al die vroue,

hoe lyk die man vir wie jy lief is?

Lyk hy anders as ander mans?

Jy sê ons moet dit belowe,

maar hoe lyk die man vir wie jy lief is?

Lyk hy anders as ander mans?”

Julle sal hom ken tussen tien duisend ander mans

10Sy sê: “Die man vir wie ek lief is,

se vel is lig en gesond,

julle sal hom ken tussen tien duisend ander mans.

11Sy voorkop lyk soos skoon goud,

sy lang krulhare is so swart soos 'n kraai.

12Sy oë lyk soos duiwe langs riviere,

duiwe wat so wit is soos melk

en wat by die water sit.

13Sy wange lyk soos 'n tuin vol kruie

wat baie lekker ruik.

Sy lippe lyk soos blomme,

mirre drup van sy lippe af.

14Sy arms lyk soos goud,

goud waarin daar mooi klippies vassit.

Sy liggaam lyk soos marmer,

marmer waarin daar saffiere vassit.

15Sy bene lyk soos marmer-pilare

wat op goue voetstukke staan.

Hy lyk soos die Libanon-berg

waar die beste sederbome groei.

16Sy mond smaak soet,

en alles aan hom is mooi.

Vroue van Jerusalem, dit is die man

vir wie ek lief is, dit is my vriend.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help