Psalms 10 - Bybel vir almal

Die Here doen reg aan die mense wat swaarkry

1Here, hoekom is U so ver weg van my?

Hoekom is U nie hier wanneer dit sleg gaan nie?

2Die mens wat verkeerd doen,

jaag die mens wat homself nie kan help nie

en wil hom vang.

U moet die mens wat verkeerd doen, laat vang,

die planne wat hy self gemaak het,

moet hom vang.

3Want die mens wat verkeerd doen,

dink hy kan alles kry wat hy wil hê,

hy wil ryk word van ander mense se goed.

Hy praat sleg oor die Here

en hy sê die Here is nie belangrik nie.

4Die mens wat verkeerd doen,

is hoogmoedig,

hy vra nie wat die Here wil hê nie.

Hy maak planne, maar hy dink nie aan God nie.

5Dit gaan altyd goed met hom,

hy dink U is te ver om hom te oordeel,

hy dink die mense wat teen hom is, beteken niks.

6Hy dink hy sal nie val nie,

hy dink dit sal nooit sleg gaan met hom nie.

7Hy hou aan om mense te vervloek

en te bedrieg en te verdruk.

Hy maak altyd planne om mense te laat swaarkry,

mense wat niks verkeerd gedoen het nie.

8Hy lê buite die stede

en hy wag vir onskuldige mense,

hy vermoor hulle waar niemand dit sien nie.

Hy kyk waar hy iemand kan kry wat swak is,

9hy kruip weg soos 'n leeu

en hy wag om iemand te vang

wat homself nie kan beskerm nie,

hy vang hom soos 'n mens 'n voël in 'n vangnet vang.

10Hy slaan mense wat hulleself nie kan help nie,

hulle val op die grond, want hy is te sterk vir hulle.

11Hy dink God het daardie mense vergeet,

hy dink God kyk weg en sien nooit wat gebeur nie.

12Here, U moet nou iets doen,

o God, U moet u hand uitsteek en help,

U moenie die mense vergeet

wat hulleself nie kan beskerm nie.

13Hoekom dink die mens wat verkeerd doen

dat God nie belangrik is nie?

Hoekom dink hy God sal hom nie straf nie?

14U sien hoe mense swaarkry en seerkry,

U sien dit en U sal iets doen.

Die mens wat homself nie kan help nie, die weeskind,

glo dat U hom sal help, en U sál dit doen.

15U moet die mens swak maak wat verkeerd doen,

U moet die krag van die slegte mens breek.

U moet hom straf oor alles wat hy verkeerd doen,

hy moet nooit weer verkeerd doen nie.

16Die Here is Koning vir altyd,

die ander volke is weg uit sy land.

17Here, U het gehoor wat die mense wil hê,

die mense wat hulleself nie kan beskerm nie.

U laat hulle weer sterk word, U luister na hulle.

18U doen reg aan die weeskind

en die mens wat swaarkry.

Niemand op die aarde sal weer slegte dinge doen

aan ander mense nie.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help