Jesaja 21 - Bybel vir almal

Babel se mure het geval

1Die Here was kwaad en Hy het gepraat teen die land in die woestyn.

Die vyande kom uit die woestyn

soos stormwinde wat alles wegwaai in die Suid-land.

Die vyande kom van daardie land,

en almal is bang vir die mense

van die land.

2Ek het gesien

daar gaan 'n vreeslike ding gebeur.

Ek het gesien

mense verraai vir Babel

en hulle verwoes die land.

Kom, mense van Elam en Medië,

julle moet kom,

en julle moet die stad aanval

van al die kante.

Die Here wil hê

die swaarkry moet ophou.

3Wanneer ek hoor en sien wat sal gebeur,

dan kry ek pyne soos 'n vrou

wat 'n baba kry,

ek buig krom en ek skrik.

4Ek weet nie wat om te doen nie,

ek word baie bang.

Ek was altyd bly

wanneer dit aand word,

maar nou is ek bang

wanneer die donker kom.

5Ek sien die bediendes dek die tafel

en gooi die matte oop,

en die amptenare van Babel

eet en drink.

En dan roep iemand en hy sê:

“Staan op, amptenare,

smeer julle skilde met olyf-olie.”

6Ja, die Here het vir my gesê

ek moet 'n wag op die muur laat staan,

en hy moet kyk en vertel wat hy sien,

7en wanneer hy oorlogkarre sien

met perde of donkies of kamele,

dan moet hy baie goed kyk.

8Die wag het gesê:

“Meneer, ek het die hele dag

en die hele nag gekyk.

9Ek sien daar kom 'n oorlogkar met perde,

en daar is mense op die oorlogkar.”

Toe die wag weer praat, het hy gesê:

“Die mure van Babel het omgeval!

Al die afgodsbeelde van die stad

lê stukkend op die grond.”

10My volk, die vyande het op julle getrap

soos 'n mens die koring

op die dorsvloer trap.

Ek het vir julle gesê

wat ek gehoor het

by die Here wat oor alles regeer,

die God van Israel.

Die Edomiete

11Die Here is kwaad vir die Edomiete. Hy het oor hulle gepraat.

Iemand praat met my uit Seïr.

Hy vra vir die wag:

“Wanneer is die nag verby,

wanneer is die nag verby?”

12Die wag het geantwoord:

“Die môre kom,

en die nag sal ook weer kom.

As jy weer wil vra,

dan kan jy weer kom en weer vra.”

Die Arabiere

13Die Here is kwaad vir die Arabiere. Hy het gesê:

“Julle, handelaars

wat van die land Dedan kom,

julle moet in die bos slaap

in Arabië.

14Julle wat in die land Teman woon,

julle moet water bring

vir die mense wat dors is

en julle moet brood gee

vir die mense wat vlug.

15Hulle vlug vir die swaarde,

vir die swaard en die pyl en boog

van hulle vyande.

Hulle vlug weg

van 'n wrede oorlog.”

16Ja, die Here het vir my gesê:

“Oor 'n jaar sal die mense van die land Kedar

nie meer ryk wees nie.

In hierdie jaar sal hulle so swaar kry

soos 'n dagloner.

17Min soldate van Kedar

sal nog lewe.”

Ja, die Here, die God van Israel,

het dit gesê.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help