Jesaja 13 - Bybel vir almal

Die tyd is naby wanneer God vir Babel sal straf

1Die Here is kwaad vir die stad Babel. Hy het vir Jesaja gewys wat met Babel sal gebeur. Jesaja was die seun van Amos. Die Here het gesê:

2“Julle moet 'n vlag in die lug hou,

julle moet dit doen op 'n berg

waar daar nie bome is nie.

Julle moet hard skree

en die vyande roep,

julle moet met die hand vir hulle wys om te kom

deur die mooi poorte van die stad Babel.

3Ek, die Here, het self die soldate gekies

om vir My te werk,

Ek het hulle geroep om oorlog te maak,

want Ek is kwaad vir Babel.

Hierdie soldate weet Ek is sterk,

en hulle is bly.”

4Luister, die soldate raas op die berge,

daar is baie soldate.

Hulle kom uit baie lande,

en hulle is bymekaar,

'n mens kan hoor hulle kom.

Die Here wat oor alles regeer,

het soldate geroep om oorlog te maak.

5Die Here is kwaad,

daarom bring Hy soldate uit 'n ver land

om sy werk te doen.

Hulle sal die hele land Babel verwoes.

6Julle moet huil,

want die dag van die Here is naby.

Die Almagtige God kom

om alles te verwoes.

7Al die mense sal baie bang word.

Hulle hande sal pap hang

en hulle harte sal bang word en bewe.

8Hulle sal pyne kry en skrik,

hulle sal krom buig soos 'n vrou wat 'n baba kry.

Hulle sal kyk na mekaar,

en hulle gesigte sal brand van die pyn.

9Kyk, die dag van die Here sal kom.

Die Here sal nie jammer wees

vir die mense van Babel nie.

Hy is kwaad en Hy sal die land Babel verwoes,

Hy sal die mense van Babel doodmaak,

hulle is sondaars.

10Ja, die sterre in die lug sal nie skyn nie,

die son sal opkom maar die son sal donker wees,

die maan sal nie lig gee nie.

11Die Here sê:

“Ek sal die slegte mense in die wêreld straf,

die mense wat verkeerd doen,

Ek sal die parmantige en hoogmoedige mense laat sterf,

Ek sal die hoogmoedige en wrede mense hard laat val.

12Die mense wat oorbly, sal baie min wees,

hulle sal minder wees as die goud van die land Ofir.

13“Ek, die Here wat oor alles regeer,

is baie kwaad.

Die dag sal kom wanneer Ek

die mense van Babel sal straf.

Dan sal Ek die hemel skud,

en die aarde sal bewe.

Ek sal die aarde uit sy plek skud.

14Al die mense van ander lande

sal vlug na hulle eie volke toe en na hulle lande.

Dit sal wees soos wanneer iemand 'n wildsbok skrikmaak,

of soos wanneer die skape weghardloop

wanneer niemand hulle oppas nie.

15Die vyande sal elke mens gryp wat hulle kry

en hulle sal hom doodmaak.

16Die mense van Babel sal sien

hoe die vyande hulle babas doodslaan,

hulle goed uit hulle huise vat

en hulle vroue verkrag.

17Ek sal die Mediërs stuur om Babel aan te val.

Die Mediërs wil nie silwer of goud hê nie,

hulle wil oorlog maak.

18Hulle sal met hulle pyl en boë

die jong soldate van Babel doodskiet,

en hulle sal nie jammer wees

vir babas en kinders nie.”

19Babel is die mooiste stad in die wêreld,

en sy mense is trots op die stad,

maar God sal die stad verwoes

soos Hy die stede Sodom en Gomorra verwoes het.

20Daar sal nooit weer mense in Babel woon nie.

Nie een Arabier sal sy tent daar opslaan nie,

en skaapwagters sal nie hulle skape

daar laat rus nie.

21 Woestyn-diere sal in Babel lê,

uile sal oral in die huise sit,

volstruise sal daar rondloop,

en veldgode sal daar dans.

22Hiënas en jakkalse sal huil in die mooi huise

waar die mense van Babel feesgevier het.

Die tyd is naby wanneer die Here Babel sal straf.

Die stad se dae is verby,

die vyande sal dit verwoes.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help