Psalms 69 - Bybel vir almal

Die Here luister wanneer arm mense bid

1Vir die leier van die koor: Dieselfde musiek soos vir die lied “Blomme.” Van Dawid.

2O God, U moet my red,

want die water het tot by my keel gekom.

3Ek het weggesink in diep modder,

ek het niks waarop ek kan staan nie.

Ek het in diep water gekom,

en die watervloed spoel bo-oor my.

4Ek is moeg van roep en vra dat U my moet help,

my keel brand, my oë het dof geword,

want ek hou aan om te wag vir my God.

5Die mense wat my haat,

is meer as die hare op my kop,

maar ek het niks verkeerd gedoen nie.

Die mense wat wil hê dat ek moet sterf, is baie.

Ek het niks verkeerd gedoen nie,

maar hulle is my vyande.

Hulle wil hê dat ek iets moet teruggee

wat ek nie gesteel het nie.

6O God, U self weet dat ek 'n dwaas is,

U weet van alles wat ek gedoen het

wat verkeerd is.

7My Here, Here wat oor alles regeer,

daar is mense wat in U glo.

U moenie dat hulle voel

hulle verloor teen hulle vyande

oor iets wat ek gedoen het nie.

God van Israel,

daar is mense wat glo dat U hulle sal help.

U moenie dat hulle vyande hulle verneder nie.

8Want dit is oor Ú dat mense my beledig

en dat hulle dit sleg laat gaan met my.

9My eie broers ken my nie meer nie,

ek is vir hulle soos iemand uit 'n ander land.

10Ek kry swaar omdat ek so lief is

vir u tempel.

Die mense wat my beledig,

is die mense wat vir Ú wil beledig.

11Hulle het my beledig toe ek gehuil

en gevas het.

12Hulle het my gespot

toe ek rouklere aangetrek het.

13Die mense wat in die poort sit,

het gepraat oor my,

die dronk mense het liedjies gesing oor my.

14En ek?

Here, ek bid dat daar 'n tyd sal kom

wanneer U my wil help.

U doen altyd wat U belowe het,

U moet doen wat ek vra, U moet my red,

want U verander nie.

15U moet my red uit die modder

sodat ek nie wegsink nie,

U moet my red van die mense wat my haat,

en U moet my uithaal uit die diep water.

16U moenie dat die watervloed

oor my stroom nie,

U moenie dat die diep water my insluk

en dat die doderyk sy bek toemaak bokant my nie.

17Here, U moet doen wat ek vra, want U is goed

en U doen altyd wat U belowe het.

U was altyd jammer vir my, U moet kyk

hoe dit met my gaan.

18Ek behoort aan U, U moenie wegkyk

wanneer dit sleg gaan met my nie,

U moet gou maak en doen wat ek vra.

19U moet nader kom na my toe en my vrymaak.

Ek het vyande, U moet my red.

20U self weet dat hulle my spot

en my verneder en my beledig.

U weet wie my vyande is.

21Hulle het aangehou om my te spot,

ek voel stukkend en swak.

Ek het gedink dat iemand jammer sal wees vir my,

maar niemand was jammer nie.

Ek het mense gesoek wat my wil help

sodat dit beter kan gaan met my,

maar ek het niemand gekry nie.

22Toe ek kos gevra het, het hulle vir my gif gegee,

toe ek dors was, het hulle vir my asyn gegee om te drink.

23U moet hulle straf daar by hulle offer-etes,

U moet hulle en hulle vriende laat val

soos voëls in vangnette val.

24U moet hulle blind maak

sodat hulle nie kan sien nie.

U moet hulle bene lam maak

sodat hulle nie kan loop nie.

25Hulle moet weet dat U kwaad is vir hulle,

hulle moenie kan weghardloop nie.

26U moet die plek verwoes waar hulle woon,

niemand moet daar woon nie.

27Want hulle jaag 'n persoon

vir wie U self geslaan het,

hulle praat oor die pyn van iemand

vir wie U siek gemaak het.

28U moet hulle straf oor alles

wat hulle gedoen het wat verkeerd is,

U moenie sê hulle is onskuldig nie.

29U moet hulle name uitvee uit die boek

van die mense wat van U die lewe sal kry,

U moenie hulle name skryf by die name

van die mense wat reg doen nie.

30Ek is 'n mens

wat myself nie kan beskerm nie,

'n mens wat seergekry het.

O God, U moet my red en my beskerm.

31Ek sal sing en die Naam van God prys,

ek sal sê Hy is groot en ek sê vir Hom dankie.

32Die Here sal meer daarvan hou as van 'n bul,

'n dier wat horings en kloue het en wat ek offer.

33Julle wat julleself nie kan help nie,

julle sal dit sien en julle sal bly wees.

Julle wat naby God wil wees,

julle sal wéét dat julle lewe.

34Want die Here luister wanneer arm mense bid,

sy mense wat gevangenes is, is vir Hom belangrik.

35Almal in die hemel en op die aarde moet Hom prys,

almal op die see en alles wat in die see lewe.

36Want God sal vir Sion red

en Hy sal die stede van Juda weer bou.

Sy mense sal daar woon,

en dit sal hulle land wees.

37Die nageslag van sy dienaars sal die land kry,

die mense wat lief is vir sy Naam, sal daar woon.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help