Psalms 109 - Bybel vir almal

Ménse vervloek my, maar Ú sal my seën

1Vir die leier van die koor: Van Dawid. 'n Psalm.

O God, ek prys U, U moet iets doen,

2want mense wat self skuldig is,

sê dinge oor my, maar dit is nie waar nie,

hulle lieg oor my.

3Hulle sê dit omdat hulle my haat.

Ek het niks verkeerd gedoen nie,

maar hulle baklei met my.

4Ek was lief vir hulle en ek het vir hulle gebid,

maar hulle beskuldig my.

5Ek het goeie dinge aan hulle gedoen,

maar hulle doen slegte dinge aan my.

Ek was lief vir hulle, maar hulle haat my.

6Hulle sê: “Jy moet iemand kies en aanstel,

iemand wat self verkeerd doen.

Daardie persoon moet langs hom kom staan

en hom beskuldig.

7'n Regter moet sê dat hy skuldig is,

die regter moet sê dat sy gebed ook sonde is.

8Sy lewe moet kort wees,

'n ander mens moet sy werk doen.

9Sy kinders moet weeskinders word,

en sy vrou moet 'n weduwee word.

10Sy kinders moet rondswerf

en bedel om kos te kry

in die plekke waar hulle woon,

die plekke wat verwoes is.

11Hy skuld geld vir mense,

daardie mense moet alles vat wat hy het.

Vreemde mense moet die goed vat

waarvoor hy gewerk het.

12Niemand moet goed wees vir hom nie,

niemand moet jammer wees

vir sy weeskinders nie.

13Sy nageslag moet almal sterf,

niemand moet hulle name

ná een geslag onthou nie.

14Die Here moet onthou

dat hierdie man se voorvaders

verkeerde dinge gedoen het

en die Here moenie sy ma se sonde vergewe nie.

15Die Here moet dit altyd onthou,

en niemand moet nog dink aan hierdie man

se voorouers nie.

16Want hierdie man het nie onthou

om te doen wat hy belowe het nie.

Hy het mense gevolg en gejaag

totdat hulle dood is,

mense wat hulleself nie kan help nie,

mense wat niks het nie

en wat moedeloos is.

17Hy het gehou daarvan om mense te vervloek,

maar daardie slegte dinge moet nou met homself gebeur.

Hy het nie daarvan gehou om mense te seën nie,

en nou moet niemand hóm seën nie.

18Hy het elke dag mense vervloek,

dit was vir hom dieselfde

soos om elke dag klere aan te trek.

Nou moet dit alles met homself gebeur,

alles wat hy gesê het.

Die slegte dinge moet in hom ingaan

soos die water wat hy drink,

dit moet tot in sy bene ingaan soos die olie

wat hy aan sy vel smeer.

19Die slegte dinge moet by hom bly

soos die klere wat hy aantrek,

soos die belt wat hy elke dag dra.”

20Die Here moet dit alles laat gebeur

met die mense wat my beskuldig

en wat vra dat dit sleg moet gaan met my.

21Maar Here, my Here, ek behoort aan U,

en daarom moet U my help.

U moet my red, want U doen altyd

wat U belowe het, en dit is goed.

22U moet dit doen,

want ek kan myself nie help nie,

ek het niks, en ek het baie pyn.

23Ek is besig om te verdwyn

soos 'n skaduwee wat lank word,

soos 'n sprinkaan wat afval

wanneer iemand dit afskud van sy klere.

24Ek het nie kos om te eet nie,

my knieë is swak en ek is maer.

25Die mense wat my beskuldig, spot my,

hulle is bly wanneer hulle sien wat met my gebeur.

26Here, my Here, U moet my help,

U moet my red, U het belowe om dit te doen.

27Die mense wat my beskuldig, moet weet

dat dit U is wat dit sleg laat gaan met my,

Ú het hierdie dinge aan my gedoen.

28Ménse vervloek my, maar Ú sal my seën.

Hulle het my aangeval, maar hulle sal verloor,

en ek, u dienaar, sal bly wees.

29U moet hierdie mense verneder,

die mense wat my beskuldig,

hulle moet aanhou verloor.

30Ek wil aanhou om vir die Here dankie te sê,

ek wil Hom prys waar baie mense dit kan hoor,

31want Hy help die mens wat niks het nie.

Die Here red hom wanneer mense hom oordeel

en sê dat hy skuldig is.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help