Hebreërs 1 - Bybel vir almal

God stuur sy Seun na ons toe om met ons te praat

1God het lank gelede baie maal en op baie maniere gepraat met ons voorouers. Hy het verskillende profete na hulle toe gestuur.

2Maar nou aan die einde van hierdie tyd het God sy Seun gestuur. Só het God met ons gepraat. God het besluit dat die Seun alles moet erf, want God en die Seun het die hemel en die aarde gemaak.

3Die Seun wys dat God die Koning is, en die Seun is presies soos God. Wanneer die Seun sê dat iets moet gebeur, dan gebeur dit. Hy laat alles gebeur. Hy het die mense gereinig van hulle sondes, en Hy het gaan sit op die belangrikste plek langs die Koning in die hemel.

4Die Seun het belangriker geword as die engele. Daarom het God vir Hom 'n Naam gegee wat belangriker is as die naam van die engele.

Die Seun van God is baie belangriker as die engele

5Die Seun van God is belangriker as die engele, want God het nooit vir een van die engele hierdie woorde gesê nie:

Jy is my Seun,

Ek is van vandag af jou Vader.

En ook nie:

Ek sal vir Hom soos 'n pa wees

en Hy sal vir My

soos 'n seun wees.

6God het ook gepraat toe Hy die Seun, wat belangriker is as almal, ingebring het in die hemel, die hemel wat nie verander nie en wat altyd daar sal wees. God het gesê:

Al die engele van God

moet Hom aanbid.

7God sê van die engele:

God stuur sy engele soos Hy

die winde stuur,

die weerlig werk vir Hom.

8Maar God sê oor die Seun:

U, o God, sal altyd Koning bly,

U is regverdig wanneer U

oor mense regeer.

9U was lief vir wat reg is

en U het gehaat

wat verkeerd is.

Daarom, o God, het u God

vir U gesalf

en Hy het vir U meer vreugde

gegee as vir ander konings.

10En God het ook gesê:

U, o Here, het lank gelede

die aarde vas laat staan,

U het self die hemel gemaak.

11Die aarde en die hemel

sal verdwyn,

maar U sal altyd daar wees.

Hulle sal word soos ou klere,

12en U sal hulle opvou soos klere,

soos wanneer 'n mens ou klere

uittrek en nuwe klere aantrek.

Maar U bly altyd dieselfde,

en U lewe vir altyd.

13Ja, God het nooit vir een van die engele hierdie woorde gesê nie:

Sit hier langs My,

op die belangrikste plek,

Ek sal jou vyande

voor jou laat buig,

en jy sal jou voete op hulle sit.

14Nee, Hy het dit nie vir die engele gesê nie. Want hulle is almal geeste wat vir God werk, en Hy stuur hulle om die mense te help, want God wil die mense red.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help