Amos 2 - Bybel vir almal

Die Here sal die Moabiete straf

1Die Here sê:

“Die mense van Moab

het 'n baie groot sonde gedoen,

daarom sal Ek hulle straf.

Hulle koning het die koning van Edom

se bene verbrand

om kalk te maak.

2Daarom sal Ek 'n vuur stuur

na die land Moab.

Die mooi huise van die stad Kerijot

sal afbrand.

Hulle vyande sal hard skree,

hulle sal brul soos leeus

en hulle sal die ramshoring blaas.

Hulle sal oorlog maak teen Moab,

en die Moabiete sal sterf.

3Ek sal die koning van Moab

en al sy amptenare

saam met hom doodmaak.”

Dit is wat die Here gesê het.

Die Here sal die mense van Juda straf

4Die Here sê:

“Die mense van die land Juda

het 'n baie groot sonde gedoen,

daarom sal Ek hulle straf.

Die wet van die Here

was nie vir hulle belangrik nie.

Hulle het nie gedoen

wat die Here gesê het nie.

Hulle voorvaders

het vals gode aanbid,

en daarom het die mense van Juda

verkeerd gedoen.

5Daarom sal Ek 'n vuur stuur

na die land Juda,

en die mooi huise

van die stad Jerusalem

sal afbrand.”

Die Here sal die mense van Israel straf

6Die Here sê:

“Die mense van Israel

het 'n baie groot sonde gedoen,

daarom sal Ek hulle straf.

Hulle het onskuldige mense verkoop

om geld te kry,

en die mense het slawe geword.

Hulle het arm mense verkoop

omdat die arm mense

geld geskuld het vir 'n paar sandale.

7Hulle trap die arm mense

se koppe in die grond in.

Hulle doen nie reg

aan die mense wat niks het nie.

'n Jongman en sy pa

slaap by dieselfde slawe-meisie,

en so ontwy hulle

my heilige Naam.

8Hulle vat die klere van mense

wat vir hulle geld skuld

en gaan lê op daardie klere

by die altare.

Hulle laat mense

boete betaal met wyn,

en dan drink hulle die wyn

in die huis van hulle God.

9“Die Amoriete was lang mense.

Hulle was so hoog

soos sederbome

en so sterk soos eikebome.

Maar Ek het al die Amoriete

doodgemaak,

die ouers en die kinders.

Ek het dit gedoen

om vir die mense van Israel

'n plek te gee

waar hulle kan woon.

10Ja, Ek het julle uit Egipte gebring

en 40 jaar lank saam met julle

deur die woestyn gegaan

sodat julle die Amoriete

se land kon vat.

11Ek het party van julle seuns

gekies om profete te wees,

en Ek het party van julle jongmanne

gekies om nasireërs te wees.

“Is dit waar of is dit nie waar nie,

mense van Israel?

12“Maar julle het die nasireërs

wyn laat drink,

en julle het vir die profete gesê

hulle mag nie profete wees nie.

13Daarom sal Ek julle straf,

julle sal inmekaar val

soos 'n wa inmekaar val

wanneer mense te veel

koring-gerwe daarop laai.

14Mense wat vinnig kan hardloop,

sal nie kan weghardloop nie.

Sterk mense sal nie

sterk genoeg wees nie.

Soldate sal hulleself nie kan red nie.

15Mense wat met pyl en boog skiet,

sal weghardloop.

Ook mense wat vinnig kan hardloop,

sal nie kan vlug nie.

Mense wat op perde ry,

sal hulleself nie kan red nie.

16Almal sal daardie dag

kaal wegvlug,

ook die dapperste soldate.”

Dit is wat die Here gesê het.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help