Jeremia 16 - Bybel vir almal

Ek het my vrede weggevat van hierdie volk

1Ek het gehoor die Here sê vir my:

2“Jy moenie trou en kinders kry

in hierdie plek nie,

3want Ek sê die kinders

wat op hierdie plek gebore word,

en hulle ouers in hierdie land,

4sal baie siek word en sterf.

Niemand sal oor hulle huil en rou

en hulle begrawe nie.

Hulle sal op die grond bly lê

soos beesmis.

Hulle sal sterf in oorlog

of omdat hulle nie kos het nie,

en die voëls en die diere

sal hulle dooie liggame vreet.”

5Ja, die Here het gesê: “Jy moenie in 'n huis kom waar mense saam eet om te rou nie, en jy moenie saam gaan rou en vir hulle wys jy is jammer nie, want Ek sal dit nie meer laat goed gaan met hierdie volk nie. Ek is nie meer lief en jammer vir hulle nie.

6Die grootmense en die kinders in hierdie land sal sterf. Niemand sal hulle begrawe en oor hulle rou nie. Niemand sal homself stukkend sny of sy hare afskeer om te wys hy is hartseer oor hulle nie.

7Wanneer iemand oor sy pa of oor sy ma rou, dan sal niemand vir hom 'n stukkie brood gee of vir hom iets gee om te drink om hom te troos nie.

8En jy moenie in 'n eetkamer kom en saam met die mense eet en drink nie.

9Ja, die Here wat oor alles regeer, die God van Israel, sê: Daar sal in hierdie plek nie meer partytjies wees waar mense vrolik en bly is nie, en hulle sal nie meer trou nie. Dit sal in julle tyd gebeur en julle sal dit sien.

10En wanneer jy dit alles vir hierdie mense gesê het, en hulle vra vir jou: ‘Hoekom het die Here gesê Hy sal dit so sleg laat gaan met ons? Wat het ons verkeerd gedoen? Watter sonde het ons gedoen teen ons God die Here?’

11dan moet jy vir hulle sê: Die Here sê: ‘Dit is omdat julle voorvaders ander gode gaan dien het en hulle aanbid het, en weggegaan het van My, en nie gedoen het wat Ek gesê het nie.

12En júlle, julle het slegter dinge gedoen as julle voorvaders. Julle is hardkoppig, julle lewe soos julle self besluit, julle is nie gehoorsaam aan My nie.

13Ek sal julle ver weggooi uit hierdie land tot in 'n land wat julle en julle voorvaders nie geken het nie, en daar sal julle elke dag en elke nag vir ander gode werk, en Ek sal nie jammer wees vir julle nie.’ ”

14Die Here sê: “Dit sal gebeur, en daarom sal daar 'n tyd kom wanneer die mense nie meer sal sê: ‘So seker soos die Here lewe wat die Israeliete uit Egipte gebring het’ nie.

15Nee, hulle sal dan sê: ‘So seker soos die Here lewe wat die Israeliete gebring het uit die land in die noorde en uit al die lande waarnatoe Hy hulle weggejaag het.’ Ek sal hulle terugbring na die land wat Ek vir hulle voorvaders gegee het.

16Maar nou stuur Ek baie vyande wat die Israeliete sal vang soos mense vis vang, en hulle sal die Israeliete doodmaak soos mense wilde diere jag, op al die berge en tussen die rotse.

17Ek doen dit omdat Ek alles sien wat hulle doen. Hulle kan niks wegsteek vir My nie, Ek sien die verkeerde dinge wat hulle doen.

18Ek sal hulle twee maal straf oor elke verkeerde ding en sonde wat hulle doen. Hulle het my land ontwy met hulle dooie afgode, hulle het die land wat aan My behoort, volgemaak met dinge wat Ek haat.”

Volke uit ver lande sal na die Here toe kom

19Ek, Jeremia, het gebid en gesê:

“Here, dit is U wat my sterk maak en my beskerm,

U wat my veilig laat voel wanneer daar gevaar is.

Volke uit ver lande sal na U toe kom

en hulle sal sê: ‘Waarlik, ons voorvaders

het gode gedien wat nie gode is nie,

daardie gode beteken niks,

hulle kan ons nie help nie.’

20Mense maak vir hulle gode,

maar dit is nie gode nie.”

21Die Here het geantwoord en gesê:

“Daarom sal Ek vir die Israeliete leer.

Ek sal vir hulle nou leer wat Ek kan doen,

en hulle sal besef dat my Naam die Here is.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help