Jesaja 62 - Bybel vir almal

Stad waarvan die Here hou

1“Jerusalem, omdat Ek lief is vir jou,

sal Ek nie stilbly nie.

Ek sal aanhou totdat jy is

wat Ek wil hê jy moet wees,

totdat Ek jou gered het.

Dit sal soos helder lig wees vir jou,

soos 'n fakkel wat brand.

2Die volke en hulle konings sal sien

jy is soos Ek wil hê jy moet wees

en jy is 'n sterk stad.

Hulle sal vir jou 'n nuwe naam gee,

die Here het self daardie naam gekies.”

3Die Here sal jou vashou

soos 'n baie mooi kroon,

soos die tulband van 'n koning.

4Mense het jou en jou land genoem

“Die stad waar nie meer mense woon nie,”

en “Die land wat verwoes is.”

Hulle sal jou nou nie meer so noem nie.

Hulle sal jou nou noem

“Die stad waarvan die Here hou,”

en hulle sal jou land noem

“Die land wat aan die Here behoort.”

Want die Here hou van jou,

en jou land behoort aan Hom.

5Soos 'n jongman met 'n meisie trou,

so sal jou mense sê

jy behoort aan hulle.

Soos 'n bruidegom bly is oor sy bruid,

so sal jou God bly wees oor jou.

6“Jerusalem, Ek het wagte op jou mure gesit,

en hulle moet nooit stilbly nie, elke dag en nag.”

Julle wat sê die Here is julle God,

julle moenie stilbly nie,

7julle moet aanhou om vir die Here te vra

totdat Hy Jerusalem sterk gemaak het,

die stad oor wie almal op die aarde sing.

8Die Here het sy regter-hand opgelig,

sy sterk arm, en Hy het belowe

Hy sal nie weer Jerusalem se koring

vir die vyande gee nie,

die vyande sal dit nie eet nie.

Mense van ander lande sal nie meer

julle wyn drink nie,

die mense van Jerusalem het

hard gewerk om daardie wyn te maak.

9Die mense wat die koring afsny,

sal die brood eet en die Here prys.

Die mense wat die druiwe pluk

en die wyn maak,

sal dit drink by die gewyde tempel van die Here.

Stad waarin mense wil woon

10Julle moet kom,

julle moet deur die poorte kom,

julle moet 'n pad maak vir die volk.

Julle moet die pad bou

en die klippe uit die pad gooi,

julle moet 'n vlag opsteek

sodat die volke dit kan sien.

11Die Here praat nou met al die mense

op die aarde.

Hy sê hulle moet vir Sion sê:

“Kyk, jou Redder kom,

en Hy bring sy volk saam met Hom,

hulle is die mense wat aan Hom behoort.”

12Die volk se naam sal wees:

“ Gewyde Volk,”

die Here het hierdie volk vrygemaak,

en Jerusalem se naam sal wees:

“Stad waarvan mense hou,”

dit is die stad waar mense wil woon.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help