2 Samuel 23 - Bybel vir almal

Die laaste dinge wat Dawid gesê het

1Hier is die laaste dinge wat Dawid gesê het:

“Dawid seun van Isai

het gepraat.

Die Here het hom

'n belangrike man gemaak,

en dit is hý wat gepraat het,

hy, die gesalfde

van die God van Jakob,

die Sterk God van Israel

was lief vir hom.

2Dit is die Gees van die Here

wat in my praat,

Hy gee vir my die woorde

wat ek sê.

3Die God van Israel

het gepraat,

die Rots van Israel

het vir my gesê:

Iemand wat regverdig regeer

oor mense

en wat vir God dien,

4is soos die oggendlig

wanneer die son opkom

en daar nie wolke is nie,

en die reën blink

op die groen plante

wat uit die aarde groei.

5Dit is hoe ek en my nageslag

by God is,

want Hy het 'n verbond

gemaak met my,

'n verbond wat altyd

sal wees,

sodat ek alles sal doen

soos dit moet wees,

en sodat ek veilig sal wees.

Hy help my en Hy gee vir my

wat ek graag wil hê,

alles kom van Hom.

6Maar slegte mense

is soos dorings

wat jy weggooi,

jy raak nie daaraan

met jou kaal hand nie.

7Iemand wat met die dorings

moet werk,

gebruik 'n yster of 'n spies

se steel,

en hy verbrand die dorings

daar waar dit lê.”

Die spesiale manne van Dawid(Kyk ook 1 Kron 11:10-47)

8Dawid het spesiale manne gehad wat goed oorlog kon maak. Hier is hulle name:

Joseb-Bassebet van die stad Tagkemon was die leier van die eerste drie manne. Hy het 800 manne op een plek doodgemaak met sy spies.

9Die volgende man van die eerste drie manne was Eleasar seun van Dodi van die stad Agoag. Eleasar was by Dawid toe hulle die Filistyne aangeval het wat bymekaargekom het om oorlog te maak. Die manne van Israel het gevlug,

10maar Eleasar het bly staan en hy het Filistyne plat geslaan. Hy het aangehou totdat sy arm moeg was en sy hand vasgesit het aan die swaard. Die Here het hom laat wen teen al die Filistyne, en die ander manne van Israel het teruggekom net om die Filistyne se goed te vat.

11Die derde man van die eerste drie manne was Samma seun van Age van die stad Harar. Die Filistyne het bymekaargekom by die plek Legi. Daar was 'n stuk grond waar lensies gegroei het. Die manne van Israel het gevlug vir die Filistyne,

12maar Samma het in die lensieland gaan staan en hy het gekeer sodat die vyande dit nie kon vat nie. Hy het die Filistyne plat geslaan, en die Here het hom laat wen teen al die Filistyne.

13Eendag het drie van die 30 leiers afgegaan na Dawid toe. Dawid was by die Adullam-grot. Dit was in die tyd toe die mense die koring afgesny het. 'n Groep Filistyne se tente was in Spook-laagte.

14Dawid was in 'n veilige plek in die berge, en die Filistyne het manne in die stad Betlehem laat bly om die stad op te pas.

15Dawid het dors geword en gesê: “Ek wens iemand bring vir my water uit die watergat in die poort van Betlehem.”

16Die drie manne het tussen die tente van die Filistyne deurgeloop en hulle het water geskep uit die watergat in die poort van Betlehem. Hulle het dit vir Dawid gebring, maar Dawid wou dit nie drink nie. Hy het dit vir die Here gegee, dit was 'n drank-offer.

17Dawid het gesê: “Here, ek kan nie hierdie water drink nie. As hierdie manne gesterf het, dan was dit my skuld.”

Dawid wou nie die water drink nie, maar dit is wat die drie manne gedoen het.

18Abisai broer van Joab en seun van Seruja was die leier van die 30 manne. Hy het 300 manne doodgemaak met sy spies. Mense het gedink hy is net so belangrik soos die eerste drie manne.

19Hy was die belangrikste van die 30 manne en hy was hulle leier, maar hy het nie een van die eerste drie manne geword nie.

20Benaja seun van Jojada van die stad Kabseël was 'n dapper man wat groot dinge gedoen het. Dit is hý wat daardie twee baie sterk manne van Moab oorwin het. En eendag toe dit gesneeu het, het hy afgegaan in 'n gat en hy het 'n leeu doodgemaak.

21Dit is ook hý wat die Egiptenaar oorwin het. Die Egiptenaar was 'n mooi man en hy het 'n spies in sy hand gehad. Benaja het net 'n stok saamgeneem toe hy afgegaan het na die Egiptenaar toe. Hy het die spies uit die Egiptenaar se hand gevat en hy het die Egiptenaar met sy eie spies doodgemaak.

22Dit is wat Benaja seun van Jojada gedoen het. Die 30 spesiale manne het toe gedink Benaja is baie belangrik.

23Hy was die belangrikste van die 30 manne, maar hy het nie een van die eerste drie manne geword nie. Dawid het hom gekies en aangestel om die hoof te wees van die manne wat die koning moes oppas.

24Joab se broer Asael was een van die 30 manne.

By hulle was daar ook Elganan

seun van Dodo

van die stad Betlehem,

25 Samma en Elika

van die stad Garod,

26Geles van die stad Pelet,

Ira seun van Ikkes

van die stad Tekoa,

27Abiëser van die stad Anatot,

Mebunnai van die stad Gusa,

28Salmon van die stad Agoag,

Magri van die stad Netofa,

29 Geleb seun van Baäna

van die stad Netofa,

Ittai seun van Ribai van die stad

Gibea-van-die-Benjaminiete,

30Benaja van die stad Piraton,

Hiddai van die stad

Nagale-Gaäs,

31 Abi-Albon van die stad Arba,

Asmawet van die stad Bargum,

32Eljagba van die stad Saälbon,

die seuns van Jasen,

Jonatan,

33Samma van die stad Harar,

Agiam seun van Sarar

van die stad Arar,

34Elifelet seun van Agasbai

van die stad Maäka,

Eliam seun van Agitofel

van die stad Gilo,

35 Gesrai van die stad Karmel,

Paärai van die stad Arab,

36Jigal seun van Natan

van die stad Soba,

Bani van die land Gad,

37Selek die Ammoniet,

Nagrai van die stad Beërot,

hy was 'n wapendraer van Joab

seun van Seruja,

38Ira en Gareb van die stad Jeter,

39Urija die Hetiet.

Hulle was almal saam 37 manne.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help