Amos 4 - Bybel vir almal

Die Here sal die vroue van Samaria straf

1Luister wat sê die Here vir julle,

vroue op Samaria-berg.

Julle is so vet soos die koeie

wat in die land Basan wei.

Julle verdruk die mense

wat swak en arm is,

julle laat hulle swaarkry.

Julle sê vir julle mans:

“Bring wyn

sodat ons kan drink!”

2Die Here het belowe en Hy, die heilige God, is self die getuie. Hy het gesê:

“Daar sal 'n tyd kom

wanneer die vyande

julle sal optel

met skerp ysters en met vishoeke.

3Julle sal almal reguit

uit die stad moet gaan,

reguit oor die afgebreekte muur.

Die vyande sal julle wegjaag

na Hermon-berg.”

Dit sê die Here.

Israel het nie na die Here teruggekom nie

4“Mense van Israel,

julle moet na die stad Bet-El kom

as julle sonde wil doen,

julle moet na die stad Gilgal kom

as julle nog meer sonde wil doen!

Bring elke oggend julle offers,

bring julle tiendes

elke derde dag.

5Brand dank-offers,

brand brood met suurdeeg in.

Vertel vir almal

van julle vrywillige offers.

Julle Israeliete hou daarvan

om te spog.”

Dit sê die Here.

6“Ek het julle honger laat bly

oral waar julle woon.

Maar julle het nie teruggekom

na My toe nie.”

Dit sê die Here.

7“Ek het die reën weggehou

toe die koring

nog nie ryp was nie.

Ek het dit op een stad laat reën,

en op 'n ander stad

het Ek dit nie laat reën nie.

Dit het gereën op een stuk land,

en 'n ander stuk land

het nie reën gekry nie,

dit het droog geword.

8Die mense van twee of drie stede

het na 'n ander stad gekruip

om water te soek,

maar hulle het nie

genoeg water gekry nie.

Maar julle het nie teruggekom

na My toe nie.”

Dit sê die Here.

9“Ek het julle koring-are

laat verdroog,

en die plantluise het dit opgevreet.

Die sprinkane het baie maal

al die blare in julle tuine

en wingerde opgevreet,

ook al die blare van julle vyebome

en olyfbome.

Maar julle het nie teruggekom

na My toe nie,”

sê die Here.

10“Ek het julle siek gemaak,

en julle het doodgegaan

soos die Egiptenaars.

Ek het julle jongmanne

in die oorlog laat sterf,

en die vyande

het julle perde gevat.

Julle het geruik dat die dooie liggame

stink in julle kamp.

Maar julle het nie teruggekom

na My toe nie,”

sê die Here.

11“Ek het julle doodgemaak

soos Ek die mense

van Sodom en Gomorra

doodgemaak het.

Julle was

soos 'n stuk vuurmaak-hout

wat Ek uit die vuur gehaal het.

Maar julle het nie teruggekom

na My toe nie,”

sê die Here.

12“Daarom, mense van Israel,

sal Ek nou weer

so met julle maak.

En omdat Ek dit met julle sal doen,

maak nou gereed

om julle God te ontmoet.”

13Dit is Hy wat die berge

en die wind gemaak het,

Hy wat vir mense sê

wat Hy wil doen,

Hy wat dit donker maak

wanneer dit al lig moet word,

Hy wat oor die hoogste berg

van die aarde loop.

Sy Naam is die Here,

God wat oor alles regeer.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help