Job 18 - Bybel vir almal

Bildad praat weer met Job

1Bildad van die land Suag het weer gepraat. Hy het gesê:

2“Hoe lank wil julle aanhou praat?

Julle moet eers goed dink en dán

moet julle praat.

3Hoekom hou Job aan om te maak

of ons diere is?

En hoekom dink hy dat ons dom is?

4Job, jy is so kwaad dat jy jouself

wil stukkend skeur.

Moet al die mense op die aarde verdwyn?

Moet 'n rots wegskuif uit sy plek

sodat jy tevrede kan wees?

5Dit ís waar,

die mens wat verkeerd doen, sterf,

ja, sy lig gaan uit, sy vuur hou nie aan

om te brand nie.

6Dit word donker in sy tent, sy lamp gaan dood.

7Die treë wat hy loop, was voorheen lank,

maar dit word nou korter,

hy besluit self wat hy wil doen, en daarom val hy.

8Sy voete bring hom in 'n vangnet,

hy loop reguit in die net in.

9Die net vang hom aan sy voet,

dit gryp hom vas.

10Hy sien nie die tou voor hom nie,

hy sien nie die vangstrik op sy pad nie.

11Daar is baie dinge wat hom laat skrik,

dinge wat hom na al die kante toe jaag.

12Dit gaan gou sleg met hom,

sy probleme is altyd naby.

13Siekte vreet sy vel weg,

sy vingers, sy arms, sy tone en sy bene

sterf en val af.

14Hy dink dat hy veilig is in sy tent,

maar hy moet daar weggaan,

almal is bang vir die plek

waarnatoe hy gaan.

15Niks bly oor in sy tent nie,

mense gooi swael oor sy woonplek

en hulle steek dit aan die brand.

16Hy is soos 'n boom

wanneer die boom se wortels

droog word en sy blare verlep.

17Niemand sal onthou

dat daar so 'n mens was nie,

die mense op die straat

sal nie sy naam ken nie.

18Mense jaag hom weg van die lig

na die donker,

hulle jaag hom weg uit die wêreld.

19Hy sal nie 'n nageslag hê nie,

niemand sal aanhou lewe

waar hy gewoon het nie.

20Al die mense van al die plekke sal

bang word wanneer hulle sien

wat met hom gebeur.

21Ja, so sal dit gaan met die woonplek

van 'n slegte mens,

dit is wat sal gebeur met 'n persoon

wat nie vir God wil ken nie.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help