Jesaja 53 - Bybel vir almal

1Hulle het gevra:

“Wie het geglo wat ons gehoor het?

Vir wie het die Here gewys Hy is sterk?

2Hierdie man was soos 'n plantjie

wat begin groei het,

soos 'n wortel wat in droë grond

begin groei.

Hy was soos 'n plantjie

wat ons nie raaksien nie,

'n plantjie wat nie mooi is nie.

3Al die mense het gedink

hierdie man is nie belangrik nie

en hulle wou hom nie sien nie.

Hy het swaargekry en hy was altyd siek.

Die mense het hulle gesig weggedraai,

hulle wou nie na hom kyk nie.

Die mense het gedink

hy is nie belangrik nie,

en ons het gedink hy beteken niks.

4Maar hy was siek

sodat ons gesond kan wees,

hy het swaargekry

sodat ons nie sal swaarkry nie.

En ons het gedink dit is God

wat hom straf

en wat hom slaan en verneder.

5Ja, dit is óns wat opstandig was,

maar hulle het hóm met 'n spies gesteek.

Dit is óns wat verkeerd gedoen het,

maar hulle het hóm stukkend geslaan.

Hy het die straf gekry

sodat dit goed kan gaan met óns,

hy het seergekry

sodat óns gesond kan wees.

6Ons almal het soos skape en bokke rondgeloop,

elkeen het geloop waar hy wou loop.

Ons almal het verkeerd gedoen,

maar die Here het daardie man gestraf.

7Die mense het hom verdruk en seergemaak,

maar hy het niks gesê nie.

Hy was soos 'n skaap

wanneer iemand hom wil slag

of wanneer iemand sy wol afskeer,

hy het stilgebly en niks gesê nie.

8Hy was 'n gevangene,

hulle het gesê hy is skuldig.

Was iemand bekommerd

oor hoe dit met hom sal gaan?

Nee, niemand nie.

Hulle het hom afgesny

van die mense wat lewe,

hulle het hom laat swaarkry

omdat sy volk opstandig was.

9Hulle het vir hom 'n graf gereedgemaak

by skuldige mense,

en toe hy sterf, het hulle hom begrawe

by mense wat ander mense se goed

gevat het en ryk geword het.

Maar hy het niemand seergemaak nie

en hy het niemand bedrieg nie.

10Die Here het besluit

dat die dienaar moet seerkry en siek word.

Die Here het gesê hy is 'n skuld-offer.

Daarom sal hy lank lewe en 'n nageslag hê.

Die Here sal sy dienaar gebruik

om te doen wat die Here wil doen.”

11Die Here sê:

“My dienaar het baie swaar gekry,

maar hy sal lewe en tevrede wees

dat hy My ken.

My dienaar is nie skuldig nie,

hy is regverdig,

en hy sal belangrike mense regverdig maak,

want hy sal die straf kry vir alles

wat hulle verkeerd gedoen het.

12Daarom sal Ek vir hom 'n plek gee

by die belangrike mense.

Hy sal saam met die leiers besluit

hoeveel goed elkeen moet kry

ná die oorlog.

Ek sal dit doen omdat hy tevrede was

om te sterf toe almal gedink het

dat hy een van die opstandige mense is.

Hy het die straf gekry vir die sonde

van die belangrike mense,

en hy het gebid vir die mense

wat opstandig was.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help