Jesaja 38 - Bybel vir almal

Hiskia word baie siek, en die Here maak hom gesond(Kyk ook 2 Kon 20:1-6; 2 Kron 32:24)

1Koning Hiskia het in daardie tyd baie siek geword. Die profeet Jesaja seun van Amos het na hom toe gekom en vir hom gesê: “Jy moet vir jou familie sê wat jy wil hê hulle moet doen, want jy sal sterf, jy sal nie gesond word nie.”

2Hiskia het sy gesig na die muur gedraai en hy het tot die Here gebid.

3Hy het gesê: “Ag, Here, dink asseblief daaraan dat ek gehoorsaam was aan U met my hele hart en dat ek altyd gedoen het wat U wil hê.”

Hiskia het hard gehuil.

4Die Here het met Jesaja gepraat

5en Hy het gesê Jesaja moet vir Hiskia gaan sê: “Ek, die God van jou voorvader Dawid, sê: Ek het jou gebed gehoor en Ek het jou trane gesien. Ek sal jou nog 15 jaar laat lewe.

6Ek sal jou en hierdie stad red van die koning van Assirië.

7En dít sal vir jou die teken wees dat Ek sal doen wat Ek gesê het:

8Die son is al klaar laag, en die skaduwee op die trappe van die sonwyser van Agas wys dat dit laat is, maar Ek sal die skaduwee tien trappe laat teruggaan.”

Die skaduwee het tien trappe teruggegaan en dit het gewys dat die son weer hoog in die lug is.

Hiskia skryf 'n lied

9Koning Hiskia van Juda was siek en hy het weer gesond geword. Hy het toe 'n lied geskryf. Hy het gesê:

10Ek het gedink ek sal nog

jonk wees wanneer ek sterf,

ek sal na die doderyk moet gaan

voordat ek oud geword het.

11Ek het gedink ek sal die Here

nie weer sien nie,

hier waar die mense woon

wat lewe.

Ek het gedink ek sal nooit weer

'n mens sien nie,

hier in die wêreld

waar die mense woon.

12Die Here het my

afgebreek en Hy het my gebêre

soos 'n skaapwagter sy tent

afslaan en bêre.

Hy het my lewe afgesny en opgerol

soos 'n stukkie garing.

Hy gooi my heeltemal weg,

elke dag en nag.

13Soos wanneer 'n leeu 'n bok vang

en sy bene stukkend kou,

so breek Hy my.

Die Here gooi my heeltemal weg,

elke dag en nag.

14Ek sug en kla

soos 'n voëltjie, soos 'n duif.

Ek het opgekyk na die hemel

totdat my oë klein geword het.

Here, dit gaan sleg met my,

help my asseblief!

15Wat moet ek sê?

Dit is die Here

wat dit gedoen het.

Moet ek my hele lewe

lank swaarkry?

16Here, U laat mense lewe

en U sal my saam met hulle

laat lewe.

U sal my weer sterk laat word

en U sal my laat aanhou lewe.

17Nou weet ek, dit was vir my goed

dat dit so sleg gegaan het met my.

U is lief vir my,

U het my nie laat sterf nie,

ja, U het al my sondes vergewe.

18U het dit gedoen,

want mense wat dood is,

kan U nie loof en prys nie.

Hulle kan nie aanhou hoop

dat U sal doen wat U belowe het nie.

19Net iemand wat lewe, kan U prys,

soos ek vandag doen.

'n Pa kan vir sy kinders vertel

dat U doen wat U belowe het.

20Here, U red my.

Ons sal in die tempel op ons liere speel

so lank ons lewe.

21Jesaja het toe gesê hulle moet 'n pleister van vye maak en hulle moet dit op die koning se seerplek sit, sodat die koning gesond kan word.

22Hiskia het gevra hoe hy sal weet wanneer hy weer na die tempel kan gaan.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help