Hosea 12 - Bybel vir almal

Nou moet die nageslag van Jakob terugkom

1Die Here het gesê:

“Die mense van Efraim

het aangehou

om vir die Here te lieg,

maar die mense van Juda

dien nog die heilige God.

2Die mense van Efraim

vra die Assiriërs

om hulle te help,

maar dit help niks.

Dit is soos iemand

wat die wind probeer vang.

Hulle lieg oral waar hulle gaan.

Hulle soek moeilikheid,

want hulle belowe

om die Assiriërs te dien,

maar hulle stuur olyf-olie

na die Egiptenaars toe.

Hulle vra die Egiptenaars

moet hulle help

teen die Assiriërs.”

3Die Here sê

die mense van Juda

het ook verkeerd gedoen,

maar Hy wil nou

die nageslag van Jakob straf.

Hy wil hulle straf omdat hulle

verkeerd gedoen het.

4Jakob was skelm

voordat hy gebore is,

hy het aan sy broer

se voet vasgehou.

Toe hy groot was,

het hy met God gestoei.

5Hy het met die Engel

gestoei en gewen.

Jakob het gehuil,

en God was jammer vir hom.

God het Jakob by Bet-El gekry

en God het daar

met Jakob gepraat.

6Die Here het dit gedoen.

Hy is die God

wat oor alles regeer,

sy Naam is: Die Here.

7Nageslag van Jakob,

nou moet julle terugkom na julle God toe.

Julle moet lief wees vir mekaar

en doen wat reg is,

julle moet altyd glo

dat Hy julle sal help.

8Maar die handelaars

meet nie reg

wanneer hulle iets verkoop nie,

hulle laat die mense swaarkry.

9Die mense van Efraim sê:

“Ons het ryk geword,

ons het baie goed

bymekaargemaak,

maar ons het niks verkeerd

gedoen nie, niks.”

10Die Here sê:

“Ek, julle God die Here,

het julle geken

toe julle nog in Egipte was.

Ek sal julle weer in tente

laat woon

soos daardie tyd

toe julle in die woestyn was.

11Ek het met die profete gepraat,

Ek het vir hulle gewys

wat sal gebeur.

Ek sal hulle nou stuur

om so te praat

dat die mense hulle

nie kan verstaan nie.

12“Die mense van die land Gilead

is sleg en hulle beteken niks.

Hulle offer bulle

in die stad Gilgal,

maar Ek sal hulle altare afbreek,

en die klippe van die altare

sal op mekaar lê

langs die koringlande.

13“Jakob het gevlug

na die land van die Arameërs.

Hy het daar gaan werk

om 'n vrou te kry.

Hy het skape opgepas

om 'n vrou te kry.

14Die Here het 'n profeet gestuur

om die Israeliete

uit Egipte te bring,

'n profeet het hulle opgepas.

15“Maar die mense van Efraim

het die Here baie kwaad gemaak.

Hulle het baie mense doodgemaak,

en hulle Here sal hulle straf.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help