Habakuk 1 - Bybel vir almal

1Die Here het gepraat. Die Here het vir die profeet Habakuk gewys wat sal gebeur.

Here, hoe lank moet ek nog bid?

2Habakuk het gesê:

“Here, hoe lank moet ek nog bid?

Hoe lank moet ek nog soebat

dat U ons moet help?

U luister nie na ons nie,

U help ons nie teen die mense

wat ons laat swaarkry nie.

3Hoekom wys U vir my

dat mense verkeerd doen

aan ander mense?

U sien hulle kry swaar

maar U doen niks.

Ek sien hoe mense slegte dinge

doen aan ander mense

en nie reg doen aan hulle nie.

4Daarom is die Wette van Moses

nie meer belangrik

vir al die mense nie,

en daarom doen hulle nie reg

aan ander mense nie.

Dit gaan beter met mense

wat verkeerd doen

as met mense wat reg doen.

Mense gaan kla in die poort,

maar wanneer hulle

daar weggaan,

dan het niemand daar

reg gedoen aan hulle nie.”

Ek sal die Galdeërs roep

5Die Here het gesê:

“Julle moet na die volke kyk.

Julle moet na hulle kyk,

dan sal julle verbaas wees

en nie weet wat om te sê nie.

Ek sal nou iets doen,

en julle sal dit nie glo

wanneer mense dit

vir julle vertel nie.

6Ek sal die Galdeërs roep.

Hulle is die wrede, wilde volk

wat oor die hele aarde gaan

en lande vat wat nie

aan hulle behoort nie.

7Almal is bang vir hulle,

hulle doen wat hulle wil.

8Hulle perde is vinniger

as jagluiperds

en wilder as honger wolwe.

Hulle soldate kom op hulle perde

van ver plekke.

Hulle kom so vinnig soos aasvoëls

wat afduik om te kom vreet.

9Hulle almal kom oorlog maak,

hulle jaag reguit vorentoe.

Hulle vang baie mense,

so baie soos sandkorrels.

10Hulle spot met konings

en met mense wat regeer.

Hulle kom maklik in 'n stad in,

want hulle gooi grond

teen die sterk mure

en klim dan bo-oor die mure.

11Dan gaan hulle weg,

hulle gaan verder soos die wind

wat verby waai.

Hulle dink hulle kan doen

wat hulle wil omdat hulle sterk is.”

U het die Galdeërs gekies om ons te straf

12Habakuk het gesê:

“Here, U was nog altyd God.

U is my God,

U is my heilige God.

Ons sal nie sterf nie.

Here, U is die Rots

wat ons beskerm,

maar U het die Galdeërs gekies

om ons te straf

en U het hulle sterk gemaak.

13Ek weet U wil nie sien

dat mense sonde doen nie.

U wil nie kyk hoe mense

verkeerd doen nie.

U hou niks daarvan dat mense

ander mense laat swaarkry nie.

Hoekom sien U

wat die Galdeërs doen,

maar U doen niks?

Hulle is slegte mense.

Hoekom bly U stil wanneer hulle

mense doodmaak

wat beter is as hulle?

14Die mense het nie leiers gehad nie,

U het hulle gemaak

soos die visse in die see

en soos die klein diertjies

wat op die aarde kruip.

15Die Galdeërs vang die mense

soos 'n mens visse vang

met 'n hoek of in 'n net,

en dan is hulle bly en hulle juig.

16Hulle bring dan offers

en hulle brand wierook

vir hulle nette,

want die nette help hulle

om ryk te word en lekker te eet.

17Here, is dit reg

as die Galdeërs aanhou

om mense dood te maak?

Is dit reg as hulle nie jammer is

vir die mense nie?”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help