Deuteronomium 33 - Bybel vir almal

Moses se laaste woorde

1Moses, die man van God, het die Israeliete geseën voordat hy gesterf het. Hy het gesê:

2“Die Here het van Sinai-berg

gekom,

Hy het verskyn

op die Seïr-berge,

Hy het sy lig laat skyn

van Paran-berg af.

Hy het gekom van sy

gewyde woonplek waar

tienduisende engele woon.

3Waarlik, U is lief vir volke,

almal wat gewy is aan U,

behoort aan U.

U leer vir hulle,

hulle luister na wat U sê.

4Hulle luister na die wette

wat Moses vir ons gegee het,

die wette wat behoort

aan die volksvergadering

van Jakob.

5Die Here het die Koning

in Jesurun geword

toe die hoofde van die volk

bymekaargekom het,

toe die leiers van die stamme

saam daar was.”

6Moses het gesê:

“Ek bid dat die mense

van Ruben sal aanhou lewe en

dat hulle nie almal sal sterf nie,

want hulle is min mense.”

7En dit het Moses oor Juda gesê:

“Here, U moet doen

wat Juda vra,

U moet hom terugbring

na sy mense toe,

U moet hom sterk maak

en hom help teen sy vyande.”

8Dit het Moses oor Levi gesê:

“Die mense wat in U glo,

dra die urim en die tummim,

U het hulle by Massa getoets,

U het hulle by die water

van Meriba beskuldig.

9Hulle het hulle ouers

en hulle broers

en hulle kinders gelos

om te doen wat U sê

en om gehoorsaam te wees

aan u verbond.

10Hulle leer vir die Israeliete

wat U besluit het

en wat U wil hê,

hulle bring vir U wierook-offers

en brand-offers op u altaar.

11Here, U moet vir die Leviete

baie krag gee

en U moet dit goed laat gaan

met alles wat hulle doen,

U moet hulle vyande

swak laat word,

U moet die mense

wat vir hulle haat,

so hard slaan dat hulle

nie kan opstaan nie.”

12Dit het Moses oor Benjamin gesê:

“Die Here is lief vir Benjamin,

hy sal veilig woon,

Die Here beskerm hom elke dag,

en hy woon tussen die berge.”

13Dit het Moses oor Josef gesê:

“Die Here sal die land

van Josef seën.

Sy mense sal die beste kry

van alles,

die beste van die reën

en die dou

en die diep water

daar onder.

14Hulle sal die beste kry

van alles wat groei,

alles onder die son,

alles wat die mense

elke maand afsny of pluk

en bymekaarmaak,

15die beste van alles wat groei

op die berge en op die heuwels

wat baie lank daar is.

16Hulle sal die beste kry van alles

wat uit die aarde kom,

alles wat daar is omdat die Here

goed is vir Josef,

die Here wat in 'n doringbos

verskyn het.

Ek bid dat Josef dit alles sal kry,

Josef wat oor sy broers regeer het.

17Die Josef-stam is so sterk

soos 'n jong bul,

soos 'n oer-os met sy horings.

Hy sal ander volke stoot en jaag

tot ver op die aarde.

Efraim het tienduisende soldate,

en Manasse het

duisende soldate.”

18Dit het Moses oor Sebulon gesê:

“Sebulon, jy moet bly wees

wanneer jy op die pad loop,

en jy, Issaskar, jy moet bly wees

wanneer jy in jou tente is.

19Hulle roep die ander volke

na die berg,

en daar bring hulle die offers

wat hulle moet bring.

Hulle word ryk,

want hulle kry baie dinge

uit die see,

hulle kry kosbare dinge

onder die sand.”

20Dit het Moses oor Gad gesê:

“Ek prys die Here,

Hy het vir Gad

'n groot woonplek gegee,

Gad is soos 'n leeu,

hy byt en skeur sterk arms,

hy slaan koppe stukkend.

21Gad het die beste land

vir homself gekies,

hy het 'n koning se land gekry,

Gad het die leiers

van die volk gebring

en hy het gedoen

wat die Here wil hê,

hy het gedoen wat die Here

besluit het.”

22Dit het Moses oor Dan gesê:

“Dan is soos 'n jong leeu

wat uit die land Basan spring.”

23Dit het Moses oor Naftali gesê:

“Die Here is goed vir Naftali,

die Here seën hom,

Naftali het die meer van Kinneret

vir homself gevat,

en ook die land suid van die see.”

24Dit het Moses oor Aser gesê:

“Die Here sal vir Aser meer seën

as die ander seuns,

ek bid dat die ander broers

lief sal wees vir hom,

en dat hy so ryk sal wees

dat hy sy voete

in olyf-olie sal was.

25Ek bid dat sy stede

sterk poorte sal hê

met sluitbalke van yster

en brons.

Ek bid dat dit altyd goed

sal gaan met Aser.

26“ Jesurun, jou God

is baie groot,

daar is niemand soos Hy nie!

Hy ry deur die lug

om jou te kom help,

Hy, die Koning,

ry oor die wolke.

27Hy is altyd God in die hemel,

Hy dra sy volk altyd in sy arms

en beskerm hulle.

Hy het die vyande

voor julle weggejaag

en Hy het vir julle gesê

julle moet die vyande doodmaak.

28Israel woon veilig,

die nageslag van Jakob

woon alleen

in 'n land waar daar koring

en wyn is,

die dou drup ook daar

uit die lug.

29Israel, jy is 'n gelukkige volk,

watter ander volk is soos jy?

Niemand.

Die Here het jou gered,

Hy beskerm jou soos 'n skild.

Hy is soos 'n swaard

wat jou laat wen,

jou vyande sal kruip voor jou,

en jy sal op hulle trap.”

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help