Psalms 116 - Bybel vir almal

Ek is lief vir die Here

1Ek is lief vir die Here,

want Hy luister wanneer ek tot Hom bid,

wanneer ek vra dat Hy my moet help.

2Want Hy luister wanneer ek bid,

daarom sal ek tot Hom bid so lank soos ek lewe.

3Bande van die dood was rondom my,

ek was bang om na die doderyk te gaan,

dit het sleg gegaan met my,

ek het baie swaar gekry.

4Toe het ek tot die Here gebid

en geroep: “Here, asseblief, red my lewe!”

5Die Here is genadig, Hy doen reg,

ons God is goed vir mense wat swaarkry.

6Hy beskerm jongmense wat baie min weet,

Hy het my gered toe ek moedeloos was.

7Ek moet nou ophou om bekommerd te wees,

want die Here het goeie dinge gedoen aan my.

8Ja, U het gekeer sodat ek nie sterf nie,

U het my gehelp, en ek het opgehou huil,

U het gekeer sodat ek nie val nie.

9Nou lewe ek naby die Here

tussen mense wat lewe.

10Ek het aangehou om te glo

dat die Here my sal help,

ook toe ek gedink het

dat dit baie sleg gaan met my.

11Ek was baie bang, en ek het gedink

daar is niemand wat ek kan vertrou nie.

12Die Here het baie goeie dinge vir my gedoen.

Wat kan ek vir Hom doen?

13Ek sal 'n drank-offer bring

en ek sal roep en sê: “Here!”

14Ek sal my geloftes aan die Here betaal

waar die hele volk dit sien.

15Die lewens van die mense wat in die Here glo,

is vir Hom kosbaar.

16Here, ek bid tot U, want ek behoort aan U,

my ma het aan U behoort, en ek behoort aan U.

U het die bande losgemaak wat my vasgehou het.

17Ek sal vir U 'n dank-offer bring,

ek sal roep en sê: “Here!”

18Ek sal my geloftes aan die Here betaal

waar sy volk dit kan sien, ek sal al die geloftes betaal.

19Ek sal dit doen op die oop stuk grond

by die tempel, binne-in jou, Jerusalem.

Julle moet die Here prys!

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help