Jesaja 23 - Bybel vir almal

Die Here praat teen Tirus

1Die Here was kwaad vir die mense van die stad Tirus en Hy het teen hulle gepraat.

Manne op die skepe van Tarsis,

julle moet huil,

want Tirus is verwoes.

Daar is nie meer huise nie

en daar is nie meer 'n hawe

vir die skepe nie.

Julle het dit gehoor

toe julle teruggekom het

uit Kittiër-land.

2Julle wat langs die see woon,

julle moet stil wees.

Die handelaars van Sidon

het julle ryk gemaak.

3Hulle het uit Egipte koring

oor die see na Tirus gebring

en hulle het dit aan baie volke verkoop.

4Mense van Sidon,

julle weet nie wat om te doen nie,

want die stad wat sterk mure het,

die stad by die see,

het gepraat en gesê:

“Ek het nooit kinders gekry nie,

ek het nie jongmans en dogters

grootgemaak nie.”

5Wanneer die Egiptenaars dit hoor,

dan sal hulle skrik

oor wat met Tirus gebeur het.

Hulle sal sê:

6“Julle wat langs die see woon,

julle moet na Tarsis gaan,

julle moet huil.

7Is dit die stad

waar die mense vrolik was?

Is dit die stad

wat al so lank daar is?

Is dit die stad van waar mense gegaan het

en op ver plekke gaan woon het?

8Wie het besluit

dit moet met Tirus gebeur?

Tirus het konings gekies

en aangestel om te regeer.

Tirus se handelaars was prinse,

hulle was die belangrikste mense

op die aarde.”

9Die Here wat oor alles regeer,

Hý het dit besluit.

Hy het besluit

om hoogmoedige mense te straf,

10om die belangrike mense

van die aarde te verneder.

Mense van Tirus,

julle moet nou in die grond werk

soos die Egiptenaars,

want daar is nie meer 'n hawe

vir julle skepe nie.

11Wanneer die Here sy hand

uitsteek oor die see,

dan bewe die konings en hulle mense.

Die Here het gesê

die vyande moet die stede verwoes

in die land van die Fenisiërs,

die stede wat sterk mure het.

12Die Here het gesê:

“Sidon, jy sal nie meer vrolik wees

en feesvier nie.

Die vyande sal jou verwoes.

Gaan na die Kittiërs toe.

Maar jy sal ook nie daar

kan rus nie.

13Kyk wat het gebeur

met die mense van Babel,

hulle is nie meer 'n volk nie.

Die Assiriërs het oorlog gemaak

teen die stad

en hulle het die mooi huise verwoes.

Babel is nou net 'n hoop grond,

'n plek waar woestyn-diere woon.

14Die manne op die skepe van Tarsis

moet huil,

want Tirus is verwoes,

die stad waar hulle veilig was

in die storms.”

15In daardie tyd sal die mense vir Tirus 70 jaar lank vergeet. Dit is so lank soos 'n koning lewe. En wanneer die 70 jaar verby is, dan sal Tirus wees soos die slegte vrou van wie hulle in die lied sing. Die woorde van die lied is:

16Die mense het jou vergeet,

slegte vrou.

Neem jou lier

en loop deur die stad,

speel mooi op die lier en sing baie,

dan sal die mense weer weet

dat jy daar is.

17Wanneer die 70 jaar verby is, dan sal die Here weer vir Tirus sorg. Die mense van die stad sal weer dinge koop en verkoop by al die volke van die wêreld,

18maar hulle sal nie hulle geld in die stad bêre nie. Die geld sal aan die Here behoort, en die mense wat die Here dien, sal vir hulleself genoeg kos en mooi klere kan koop.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help