Psalms 38 - Bybel vir almal

Dit is vir U wat ek wag

1'n Psalm van Dawid. Om te onthou.

2Here, U is kwaad,

maar U moenie vir my straf nie,

U hou nie van die dinge wat ek gedoen het nie,

maar U moenie vir my laat swaarkry nie.

3U het my geskiet met u pyle

en U het my geslaan met u hand.

4My hele lyf is seer

omdat U vir my kwaad is,

niks in my is heel nie

omdat ek sonde gedoen het.

5Die verkeerde dinge wat ek gedoen het,

is soos iets wat ek moet dra wat baie swaar is,

en dit is te swaar vir my.

6Ek is 'n dwaas,

daarom is my liggaam vol seerplekke

wat stink en nog seerder word.

7Ek is krom, ek kan nie regop loop nie,

ek loop die hele dag en huil en treur,

8want dit voel of daar 'n vuur in my is,

my hele lyf is seer.

9Ek is naby my einde, ek kan nie meer aanhou nie,

ek brul soos 'n leeu, want alles in my voel deurmekaar.

10My Here, U weet alles wat ek wil vra,

U hoor hoe ek kla en sug.

11Ek hoor my hart klop vinnig, my krag is op,

en ek kan nie meer goed sien nie.

12My vriende en my maats staan nie naby my nie

omdat ek siek is,

my familie het ver gaan staan.

13Die mense wat wil hê dat ek moet sterf,

wag dat ek iets moet sê of doen

waaroor hulle my kan beskuldig.

Die mense wat wil hê dat dit sleg moet gaan met my,

praat oor hoe hulle my kan laat doodmaak,

hulle dink die hele dag aan vals dinge teen my.

14En ek?

Ek maak of ek doof en stom is,

ek hoor nie en ek praat nie.

15Ek is soos iemand wat nie kan hoor nie

en nie kan antwoord nie,

16want dit is vir U wat ek wag.

My Here, my God, dit is U wat sal antwoord,

17want ek vra vir U: U moenie dat hulle bly word

oor wat met my gebeur nie,

U moenie dat hulle spog wanneer ek val nie,

18want ek gaan nou val, en ek het altyd pyn.

19Ek bely dat ek verkeerd gedoen het,

ek voel sleg oor my sonde.

20My vyande is gesond en sterk.

Ek het niks verkeerd gedoen nie,

maar daar is baie mense wat my haat.

21Ek het goed gedoen aan hulle,

maar hulle wil dit sleg laat gaan met my.

Hulle is teen my omdat ek probeer goed doen.

22My God die Here, U moenie vir my los nie,

U moenie ver van my wees nie.

23My Here, U moet my gou kom help,

dit is U wat my moet red.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help