Psalms 51 - Bybel vir almal

Gee vir my 'n nuwe hart

1Vir die leier van die koor. 'n Psalm van Dawid

2 toe hy seks gehad het met Batseba en die profeet Natan na hom toe gekom het.

3O God, U moet genadig wees vir my,

want U doen altyd wat U belowe het.

U is altyd jammer vir u mense,

daarom moet U nie meer daaraan dink

dat ek opstandig was teen U nie.

4U moet alles wegneem

wat ek verkeerd gedoen het.

U moet my reinig en my sonde wegwas

soos 'n mens iemand skoon was.

5Ja, ek weet self dat ek opstandig was,

ek vergeet nooit my sonde nie.

6Ek het sonde gedoen teen U, net teen U,

ek het dinge gedoen waarvan U nie hou nie.

Daarom was U reg toe U gesê het dat ek skuldig is,

U het nie 'n fout gemaak

toe U my ge-oordeel het nie.

7Ek weet, ek het verkeerd gedoen

vandat ek gebore is,

ek was 'n sondaar voordat ek gebore is.

8Ek weet, U hou van die waarheid,

ook in die donker,

U leer vir my wysheid

waar niemand dit kan sien nie.

9U moet my reinig van my sonde,

soos die priesters dinge reinig

met 'n hisop-takkie.

U moet my rein maak

soos wanneer iemand iets skoon was,

so skoon dat dit witter as sneeu is.

10U het my baie swaar laat kry,

maar U moet my weer vrolik en bly maak,

U moet my weer laat juig.

11U moenie na my sonde kyk nie,

U moenie dink aan al die verkeerde dinge

wat ek gedoen het nie.

12O God, gee vir my 'n nuwe hart wat rein is,

maak my gees in my nuut,

sodat ek altyd aan U kan behoort.

13U moenie vir my weggooi nie,

U moet altyd by my bly.

14U moet my red

sodat ek weer bly kan wees,

U moet my help

om gehoorsaam te wil wees aan U.

15Ek sal vir mense wat opstandig is,

leer hoe om vir U te dien,

sondaars sal terugkom na U toe.

16O God, U moet my red

sodat mense my nie doodmaak nie.

U is die God wat my sal red,

ek sal juig wanneer U my red.

17My Here, gee vir my die woorde

om U te prys,

18want offers is nie vir U belangrik nie,

U hou nie daarvan

dat ek net brand-offers gee nie.

19Die offers wat God wil hê,

is dat 'n mens jammer moet wees

oor sy sonde.

O God, U wil hê dat 'n mens sleg moet voel

oor sy sonde

en jammer wees daaroor.

20U moet besluit om weer goed te doen aan Sion,

U moet die mure van Jerusalem weer bou.

21Dan sal U die offers weer geniet

wat die mense moet bring,

die brand-offers, die diere

wat hulle heeltemal offer.

Dan sal hulle weer bulle offer op u altaar.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help