Genesis 49 - Bybel vir almal

Jakob seën sy seuns

1Jakob het sy seuns geroep en gesê:

“Kom hier na my toe

sodat ek vir julle kan vertel

wat later met julle nageslag

sal gebeur.

2Kom hier en luister,

seuns van Jakob.

Kom luister na julle pa Jakob.

3“Ruben, jy was my eerste kind.

Jy is gebore toe ek jonk

en sterk was,

jy is my beste

en belangrikste seun.

4Maar jy sal nie die belangrikste

bly nie,

want jy het 'n verkeerde ding

gedoen.

Jy was soos water wat oor

die walle stroom.

Jy het seks gehad met

jou pa se vrou,

jy het my bed

onrein gemaak.

5“Simeon en Levi is broers

wat dieselfde is.

Hulle is lief om te baklei.

6Hulle kom bymekaar

en maak planne,

maar ek wil nie daar saam met

hulle wees nie,

want hulle het mense

doodgemaak toe hulle

kwaad was.

Hulle het wrede dinge gedoen

aan diere

en hulle het die diere

se hakskene afgesny

omdat hulle lus was

om dit te doen.

7Ek vervloek hulle

omdat hulle so baie

kwaad geword het.

Hulle sal nie bymekaar

kan bly nie,

hulle sal woon tussen

die ander mense,

oral in die land Israel.

8“Juda, jou broers sal jou prys.

Jy sal jou vyande oorwin en

jy sal regeer oor jou broers.

9My seun Juda,

jy is soos 'n jong leeu

wat opstaan nadat hy

'n bok gevang het.

Jy gaan lê soos 'n leeu

wat gaan slaap,

en almal is bang om jou te pla.

10Daar sal altyd 'n koning

in jou nageslag wees.

Hy sal regeer totdat Silo kom.

Baie volke sal gehoorsaam

wees aan hom.

11Hy sal die beste

wingerdstokke hê

en hy sal sy donkie

daaraan vasmaak.

Hy sal so baie wyn hê

dat hy sy klere daarin

kan was.

12Sy oë sal meer blink as wyn,

sy tande sal witter wees as melk.

13“Sebulon sal naby die see woon,

by die strand waar die bote is.

Hy sal grond hê tot by

die stad Sidon.

14“Issaskar is soos 'n sterk donkie

wat tussen die saalsakke lê.

15Hy sal 'n goeie rusplek

en 'n mooi land sien.

Hy sal tevrede wees

om hard te werk daarvoor,

ja, hy sal soos 'n slaaf werk.

16“My seun Dan sal seker maak

dat mense reg doen

aan sy volk,

want hulle is ook

een van die stamme

van Israel.

17Dan is soos 'n slang langs die pad.

Hy is soos 'n horingslang

wat die perd

se hakskeen byt,

sodat die man wat op

die perd ry,

agteroor val.

18“Here, Ek wag dat U my help.

19“'n Klomp rowers

sal vir Gad aanval,

maar hy sal hulle wegjaag,

hy sal van agter kom en hy

sal hulle aanval.

20“Aser sal goeie kos eet.

Hy sal kos eet wat konings

altyd eet.

21“Naftali is soos 'n takbok

wat vry rondloop.

Hy sal 'n mooi nageslag hê.

22“Josef is soos 'n jong

vrugteboom by 'n fontein.

Sy takke groei oor die muur.

23Baie mense sal hom aanval

en hulle sal hom met pyl

en boog skiet.

Hulle sal hom laat swaarkry,

24maar hy sal hulle oorwin.

Sy boog en sy arms is sterk,

want die sterk God van Jakob

help hom.

Die God wat die Rots

van Israel is,

is sy Herder.

25Josef, die God van jou pa

sal jou help,

die Almagtige God

sal jou seën.

Hy sal jou seën met reën

uit die hemel en met

water uit die grond.

Hy sal die ma's seën

sodat hulle baie kinders

kan kry en melk sal hê

vir die kinders.

26My seun, ek seën jou meer

as my ander kinders.

Die seën sal aanhou

so lank soos die berge

en heuwels daar is.

Met Josef sal dit goed gaan,

want hy sal die leier

van sy broers wees.

27“Benjamin is soos 'n wolf

wat ander diere doodmaak.

In die oggend en in die aand

eet hy die diere wat hy

gevang het

en hy gee dit vir sy kleintjies.”

28Dit is die twaalf stamme van Israel, en dit is wat hulle pa vir hulle gesê het. Hy het hulle geseën, en hy het vir elke stam sy eie seën gegee.

Jakob se dood en begrafnis

29Jakob het vir sy seuns gesê: “Wanneer ek sterf, dan moet julle my gaan begrawe by my voorvaders in die grot op die grond wat aan Efron die Hetiet behoort het.

30Die grot en grond van Makpela is naby Mamre in Kanaän. Dit is die grond wat Abraham van Efron, die Hetiet, gekoop het om daar 'n graf te hê.

31Abraham se familie het hom en sy vrou Sara daar begrawe, en ook vir Isak en sy vrou Rebekka, en vir Lea.

32Abraham het die grond en die grot daarop van die Hetiete gekoop.”

33Toe Jakob klaar met sy seuns gepraat het, het hy weer gaan lê en hy het gesterf.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help