Prediker 10 - Bybel vir almal

'n Dwaas wys vir almal dat hy 'n dwaas is

1Dooie vlieë laat lekkerruik-olie

stink en sleg word.

Wanneer iemand 'n bietjie dom is,

dan beteken sy wysheid min,

en mense sal hom minder respekteer.

2Die verstand van 'n wyse mens

laat dit goed gaan met hom,

die verstand van 'n dwaas

laat dit sleg gaan met hom.

3Ook wanneer die dwaas

op 'n pad loop,

dan kan mense sien dat hy

nie verstand het nie,

hy wys vir almal dat hy

'n dwaas is.

'n Verkeerde ding in hierdie wêreld

4Wanneer 'n persoon wat regeer,

kwaad word vir jou,

dan moet jy op jou plek bly

en jou werk doen,

want as jy kalm bly,

dan sal jy nie dinge doen

wat baie verkeerd is nie.

5Ek het 'n verkeerde ding in hierdie wêreld gesien, dit is 'n fout wat 'n belangrike persoon maak:

6Hy laat die dwase op baie belangrike plekke sit, maar ryk mense moet op die minder belangrike plekke sit.

7Ek het gesien dwase ry op perde, en leiers moet soos slawe loop.

As jy wysheid het, dan kan jy slaag

8Wanneer iemand 'n gat grawe,

dan sal hy miskien self daarin val,

wanneer iemand 'n muur begin afbreek,

dan sal 'n slang hom miskien pik.

9Wanneer iemand klippe breek,

dan sal die klippe hom miskien seermaak,

wanneer iemand bome afkap,

dan moet hy versigtig wees.

10Wanneer 'n byl stomp is

en jy maak dit nie skerp nie,

dan moet jy harder kap,

maar as jy wysheid het,

dan kan jy slaag.

11Wanneer 'n slang pik voordat

iemand hom getoor het,

dan help dit nie dat iemand

die slang later toor nie.

Wanneer 'n dwaas praat, dan laat hy dit sleg gaan met homself

12Wanneer 'n wyse mens praat, dan is mense vriendelik met hom, maar wanneer 'n dwaas praat, dan laat hy dit sleg gaan met homself.

13Hy is dwaas wanneer hy begin praat, en wanneer hy klaar gepraat het, dan is hy nog méér dom.

14Maar 'n dwaas praat en praat. Niemand weet wat later sal gebeur nie. Wie kan vir hom sê wat later sal gebeur? Niemand.

15'n Dwaas word baie moeg wanneer hy iets doen, en hy weet nie hoe hy weer in die stad kan kom nie.

Die regte koning en die regte tyd

16Dit sal sleg gaan met 'n land as sy koning 'n slaaf is en as sy amptenare vroeg in die dag begin feesvier.

17'n Land is gelukkig as sy koning uit 'n belangrike familie kom en as sy amptenare op die regte tyd eet en drink om sterk te word, nie om dronk te word nie.

18As 'n persoon baie lui is, dan sal sy huis se dak inval, as hy niks wil doen nie, dan sal daar water lek deur sy huis se dak.

19Mense maak kos om lekker te eet, en wyn maak hulle vrolik, maar dit is geld wat hulle help om alles te kry wat hulle wil hê.

20Jy moenie die koning vervloek nie, jy moet nooit dink om dit te doen nie. Jy moenie 'n ryk mens vervloek nie, ook nie as jy alleen in jou slaapkamer is nie. Hoekom? Want 'n voëltjie kan gaan vertel wat jy gesê het, enige iets wat vlieg, kan dit vir hom gaan sê.

Blog
About Us
Message
Site Map

Who We AreWhat We EelieveWhat We Do

Terms of UsePrivacy Notice

2025 by iamachristian.org,Inc All rights reserved.

Home
Gospel
Question
Blog
Help